Local newsNewsStreeknuus

Oom Hennie Kok van Cullinan sterf

‘Dankie Here, ek het genoeg was sy manier van lewe'

Oom Hennie Kok het 23 jaar gelede kom aftree op sy skoonseun Dietrich von Staden en sy dogter Marie se plaas op Brandbach net buite Cullinan.

Die doel was om nader aan sy kinders en kleinkinders te wees.

Oom Hennie (89) is in die Wilgers Hospitaal oorlede aan longkomplikasies.

Hy word agtergelaat deur sy vrou Dina en drie dogters. Die egpaar het nog hulle 60ste huweliksherdenking in die koerant gevier en was 67 jaar lank getroud.

Hy is met sy skoolvriending van laerskooldae op 24 Desember 1954 op hul plaas Roodewal, Krugersdorpdistrik getroud en het eers op Cullinan gewoon waar oom Hennie by Cullinan Myn gewerk het.

Die egpaar het sewe kleinkinders en 11 agterkleinkinders.

Sy begrafnis het Woensdag, 8 Junie op die plaas plaasgevind.

Wyle oom Hennie is gebore op Roodewal in die Lindley-distrik, aangrensend aan Lanseria. Dit is vandag nog hulle familieplaas. Hy het skoolgegaan by Roodewal Laerskool en is na Bekker Hoërskool.

“Al was hy ’n groot en sterk man, het ons geweet hoe klein sy hartjie was en sy lewe en die gediggies wat hy as jongman geskryf het, getuig hiervan. Sy stil humor en poetse wat hy gebak het, sal altyd onthou word. Hy het gehou van jag en visvang. Hy was baie lief vir sy familie en het ons lewens met deernis aangeraak.

“Dit was die grootste geskenk wat hy vir ons gegee het. Om te gee en te deel was sy lewe. Om te gee is ’n geestelike ingesteldheid van ‘Dankie Here, ek het genoeg’,” het sy dogter, Marie von Staden vertel.

“Hy was ook lief vir sy Skepper en het elke dag vir almal gebid. Die aand voor hy siek geword het, het hy die Onse Vader hardop gebid voor hy gaan slaap het. Ons groet ’n groot gees wat diep spore in ons lewens getrap het, sy nalatenskap sal bly voortleef,” het sy dogter Marie von Staden afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button