R50 het sinkgat en slaggate, maar naamsverandering wink
Die R50 of beter bekend as die Delmas-pad se naam gaan moontlik eersdaags na die oud Springbok-legende, Joost van der Westhuizen hernoem word.
Inwoners van Delmas kan eersdaags moontlik vanaf die Ellen Khuzwayo-rylaan die Ahmed Katrada-snelweg neem ten einde die sinkgat op die Joost van der Westhuizen-rylaan mis te ry.
Dit klink dalk vergesog, maar as die regering se beplande naamsverandering vir die R42, R50 en N12 deurgevoer sou word, kan dit ’n werklikheid word.
Die R50, of beter bekend as die Delmas-pad, se naam gaan moontlik binnekort na die Springbok-legende,wyle Joost van der Westhuizen, hernoem word.
Volgens Jacob Mamabola, die Gautengse LUR vir Vervoer, is die hernoeming van die hoofroetes deel van die provinsie se verbintenis tot maatskaplike samehorigheid en transformasie.
In plaaslike kringe laat dié aankondiging inwoners behoorlik rooi onder die kraag en word sosiale media met boodskappe van ongelukkige motoriste oorstroom.
Die hoofrede vir die ongelukkigheid blyk te wees dat ’n gedeelte van die R50 reeds sedert November 2019 na die ontstaan van ’n sinkgat, gesluit is. (Streeknuus, Januarie 2020).

Dié sinkgat het sowat 6km van die R25- en R50-kruising, 16km oos van Bapsfontein, ontstaan.
In ’n mediaverklaring op 1 November 2019, het die Departement van Paaie en Vervoer aangevoer dat daar weens die ernstige aard van die sinkgat, ’n maatskappy aangestel sou word om ’n gedetailleerde geotegniese ondersoek te doen.
“Sodra hierdie ondersoek afgehandel is, sal die verslag die stappe wat benodig word en die nodige aksies uitstippel,” het die departement verder in hul mediaverklaring aangedui.
Dit was 2019 en steeds kan geen klarigheid gekry word oor wanneer herstelwerk aan die sinkgat sal begin nie.
Intussen is daar ook verskeie berigte waarin motoriste in ernstige ongelukke op die stuk pad betrokke was. (Streeknuus, 26 November 2021).
Tydens die ongelukke is daar beweer dat die veiligheidshindernisse wat die pad sou versper, met opset verwyder is.
Niksvermoedende slagoffers het die pad gebruik en dan binne in die diep sloot, wat oor die hele wydte van die R50 strek, beland.
Konstruksie het boonop ook nog aan ’n gedeelte van die R50-pad nader aan Delmas begin.
Volgens betroubare inligting sou die 9.1km tussen Delmas en die N12 belastingbetalers sowat R130 miljoen uit die sak jaag.

Die afhandeling van die projek is glo uitgestel weens die Covidpandemie en motoriste moes verlief neem om die ompad te gebruik. Ook op hierdie gedeelte van die R50 word daar nie veel vordering gemaak nie.
“Dit steek my dwars in die krop dat die regering nou geld wil bestee om die Delmas-pad se naam te verander.
“Vir langer as twee jaar moet ek ’n ompad na my werk in Pretoria-Oos ry.
“Intussen bou hulle nou ook al vir meer as twee jaar aan die stukkie R50 hier by die hoenderplaas én die res van die R50 is so vol slaggate, dit is lankal nie meer veilig om te ry nie.
“Brandstof word maandeliks net duurder en duurder, maar die sinkgat en slaggate bly.
“Ek ry daagliks vir die afgelope twee en ’n half jaar al ’n 34km ekstra per dag om by my werk uit te kom. Ek glo nie ek is die enigste een nie.
“Miskien moet ons regering daardie sommetjie maak en dan besluit of hulle nog ons paaie ander name wil gee,” het ’n ontstoke Delmas-inwoner Streeknuus meegedeel.

Die Suid-Afrikaanse regering het intussen ’n beroep op belanghebbendes gedoen om kommentaar oor die voorgestelde naamsveranderinge aan verskeie van die groot paaie, te lewer.
Kommentaar kan aan Rhulani. Mahori@gauteng.gov.za gestuur word.
Streeknuus het gepoog om met die Gautengse Departement van Vervoer in aanraking te kom, spesifiek rakende die vordering in die herstel van die sinkgat op die R50.
Teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.




