Local newsNews

Marthie van Standerton woel en werskaf steeds na aftrede

Marthie se moeder Jackie, was destyds die navigeerder vir Sarel van der Merwe se tydrenne vir die blindes in Bloemfonetin.

Marthie van Nieuwenhuizen van Standerton raak begeesterd oor ou trekkers, treine, vragmotors en antieke enjins.

“Weet jy hoe mal is ek oor ’n mooi, groot lorrie?” het sy gevra.

“Ek stel glad nie in motors belang nie.”

Haar pa Mattheus, was destyds ’n rangeerder by die spoorweë wat moontlik haar belangstelling in treine verklaar.

Dié Kapenaar al die pad van Worcester af, het saam met haar man, Izak, in Desember 1980 na Standerton, vanaf Middelburg in Mpumalanga, verhuis.

Marthie se moeder Jackie, was destyds die navigeerder vir Sarel van der Merwe se tydrenne vir die blindes in Bloemfonetin.

“My ma het haar instruksies vir die roete met Braille gedoen,” het Marthie vertel.

Jackie was vanaf sesjarige ouderdom by Pionierskool vir gesiggestremdes in Worcester en het haar as weefster in die werkswinkel bekwaam.

“My ma het my geleer dat ’n mens nie oor enige dingetjie huil nie,” het Marthie onthou.

Marthie het vir ’n geruime tyd as verkoopsdame by ’n nasionale afdelingswinkel op die dorp gewerk, terwyl Izak by Piet Boer Bouers ingeval het.

Die egpaar, albei reeds pensioenarisse, het met hul opwagting op Standerton ’n woonwa aangeskaf en na die geboorte van Hein, het Marthie kind grootgemaak.

Teen 1997 het sy by Vaalrivierskool aangesluit as koshuismoeder en dit was ’n saak van erns om die leerders se klere in ’n goeie toestand te hou.

Marthie van Nieuwenhuizen kon 100 dosyn koeksisters in ’n week bak as daar na mense in nood uitgereik is. (Foto: Verskaf)

“’n Mens kon hul altyd deur ’n ring trek,” het sy gesê.

Sy is bedrewe agter die naaimasjien en het op haar dag nie geskroom om ’n toekomstige bruid se uitrusting te maak nie.

Na 24 jaar by die Valies, het sy die tuig neergelê.

Dié vrou kon 100 dosyn koeksisters in ’n week bak as daar na mense in nood uitgereik is.

“Die geheim lê in die stroop,” aldus die baasbakker.

“Ek het heeldag en aldag koeksisters gebak.”

Konfyt, ingelegde beet, ingelegde vrugte, klein koekies en dadelhappies tel onder haar talente.

Sy het gasvrou gespeel vir die Trekkerklub van Pretoria as daar ’n spesiale geleentheid was, waar klublede aan haar vetkoek met maalvleis of pap en kaiings kon weglê.

Trekkers is dan staangemaak op hul grasperk en sy het gewoel.

Die Van Nieuwenhuizens het oor die jare hul besig gehou met die restourasie van trekkers.

Trekkers is van boere in die omgewing gekoop en onderdele is op die draaibank gedraai as dit nie so maklik bekombaar was nie.

Hul motorhuis is gepak met trekkers, sommige van toeka se dae en ’n ploegkompetisie of wat is gewen.

Marthie het destyds netbal vir die dorp gespeel in die hulpdoelposisie juis omdat sy nie bang was vir val nie.

Haar stokperdjies, behalwe vir die bak, sluit in borduur aan tapisserieë, waarvan haar handewerk in die sitkamer te sien is, en solitaire is haar tydverdryf as dit by kaartspel kom.

Diesel die labrador, word by die Van Nieuwenhuizens tot in die afgrond in bederf en moet nie eers begin om ’n bal vir hom te gooi nie.

Marthie spog met drie kleinkinders, Amber-Ley, Desiré en Ulrich-Zach.

Dié pensioenaris het onomwonde verklaar dat daar nie iets soos aftrede is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button