Uile en vlermuise op Standerton speel ’n belangrike rol
Bykans 500 kinders word jaarliks in die hospitaal opgeneem na die inname van ’n rotgif naamlik ‘Two Step’ .
Enige boer weet dat baie van sy sukses daarvan afhang of hy effektiewe plaagbeheer beoefen.
Wanneer daar aan plaagbeheer gedink word, dink ’n mens heel eerste aan die nuutste chemikalieë of gifstowwe, maar navorsing het begin wys dat dit nie meer doeltreffend is nie.
Insekte bou vinnig weerstand op teen chemiese stowwe en daar word wêreldwyd deurlopend aan nuwe, aktiewe middels gewerk.
Wat ontstellend is, is dat gifstowwe wat reeds in Amerika verban is, nog in Afrika gebruik word.
DDT word nog in KwaZulu-Natal gebruik en Aldecarb landwyd as rotgif.
Bykans 500 kinders word jaarliks in die hospitaal opgeneem na die inname van ’n rotgif naamlik ‘Two Step’.
Die naam is afgelei van die rot wat na twee treë vrek.
Dit is dus van uiterste belang dat plaagdoders, wat sekondêre vergifting van uile veroorsaak, nie gebruik word nie.
Produkte wat kumatetraliel en difenakum bevat, sal nie sekondêre vergifting veroorsaak nie.
Die antwoord is landboubondgenote – uile en vlermuise.
Hulle werk perfek in ’n geïntegreerde plaagbeheerstelsel.
Uile is wonderlike roofvoëls wat knaagdiere baie doeltreffend beheer.
Daar word gesê dat gevlekte ooruile en nonnetjiesuile wat algemene standvoëls in Suid-Afrika is, jaarliks duisende ton muise en rotte vang.
‘n Paar nonnetjiesuile met ’n nesvol kuikens kan in een nag meer as 60 muise vang.
Hulle reageer baie vinnig op ’n knaagdieruitbraak en broei onverpoosd om die ooraanbod van muise te benut.
Hulle broei regdeur die jaar, waar die gevlekte ooruile en grasuile seisoenaal broei.
Die nonnetjiesuil en die gevlekte ooruil kan maklik met ’n neskas na die tuin, opstal of stoor gelok word.
As hulle nie versteur word nie, sal ’n nonnetjiespaar vir jare in dieselfde kas nesmaak.
So ’n kas moet verkieslik 4m of hoër gemonteer word en daar moet gereeld gekyk word of die kas nie deur spreeus of duiwe benut word nie.
’n Mens sien dit maklik raak want daar is grassies en vere by die ingang van die kas.
Vlermuise kan tot 500 insekte in een nag vang.
Behalwe vir die direkte impak wat hulle op insekte het, het die slimmes ontdek dat sekere van die motte ook eggolokasie gebruik en sal eerder wegbeweeg as hulle agterkom hulle word deur vlermuise gejag.
Dus word weerstand teen gifstowwe deur motte gebied.
Daar kan vlermuiskaste opgerig word om hulle sodoende te lok, maar dit moet liefs met kundige hulp gedoen word.
(Inligting: Helen Ellis)




