Local newsNewsStreeknuus

Totsiens maskers, maar die seer herinneringe ná Covid-19 klou, vertel Streeknuus-lesers

Covid-19 sal altyd met ons wees, die impak op die ekonomie, die gepaardgaande lewensverlies en die herinneringe, goed en sleg, aan die dae van inperking.

Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, het Woensdagaand, 22 Junie met ’n kort kennisgewing in die Staatskoerant, alle regulasies rondom Covid-19 herroep.

Dit het die beperkings op geleenthede, die wegdoen met reisregulasies na Suid-Afrika asook die verpligte dra van maskers ingesluit.

“Na meer as twee jaar van daai stuk lap oor jou mond en om jou ore, is dit net so skielik as wat dit gekom het, weer weg. Ek voel steeds skuldig wanneer ek ’n winkel binnegaan en voel-voel aan my gesig asof ek iets vergeet het, asof ek ’n wet oortree.
“Daardie eerste oggend in ons supermark was eintlik baie snaaks.
“Vriende het mekaar omhels en in elke ry het mense gesels oor die seën dat die dra van maskers ten einde laaste op ’n einde was. Snaakser nog was diegene wat my erg beskuldigend aangekyk het, hulle maskers steeds tot onder die oë getrek. Ek glo hulle het toe nog net nie geweet dat maskers nie meer verpligtend is nie,” het ’n inwoner van Delmas Streeknuus meegedeel.

Die realiteit van die pandemie sal egter vir altyd saam met elke inwoner bly.

“Die rook- en drankverbod, die pynappelbier, die astronomiese prys van pynappels en die winkelrakke sonder suurdeeg. Dit alles klink nou so vergesog, maar dit was ons lewens sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie in ons land.”

Tog was daar ook die seer, die siekte self en die mense wat agtergebly het nadat hul geliefdes weens Covid-19 aan die dood moes afstaan.

Streeknuus het op 12 Junie 2020 berig oor die heel eerste geval van Covid-19 in Delmas.

Plaaslike inwoner, Harry Nieuwoudt het tydens ’n onderhoud met Streeknuus vertel hoe daar toe eintlik ’n stigma daaraan was om die heel eerste geval te wees.

Nieuwoudt was gelukkig, hy het die virus oorleef en geen van sy gesinslede het dit toe opgedoen nie.

“Die Here het my man genees, Hy het ’’n pad met ons gestap, ons verstaan nie, maar eendag sal ons verstaan. Ek het op my knieë gebly vir my man en die Here het hom absoluut gered,” het Maggs Nieuwoudt, Harry se vrou toe gesê.

Daarna was die woorde “ek is positief getoets vir Covid-19” en “isolasie” sinoniem met inwoners se dag-tot-dag bestaan.

Bronkhorstspruiters het ook minder aangename herinneringe wanneer dit by Covid-19 kom.

Deoné en Ruan Fourie se wittebrood in Thailand was op sy kop gedraai nadat die twee pasgetroudes vir 42 dae weens die inperking in Thailand gestrand was.

“Ons eerste maand van getroud wees was ons in Thailand en die tweede maand in kwarantyn,” het die paartjie laat hoor.

Tannie Loekie Roos, oud-inwoner van Bronkhorstspruit, het vertel dat die dra van gesigmaskers haar gesondheid negatief beïnvloed het.

“Vir my was dit sleg. Ek het altyd my masker so ’n bietjie gelig, want my longe is nie sterk nie.

“Die maskers het my erg benoud gemaak.

“Deur die genade het net een van ons familielede weens Covid-19 gesterf.

“Ek is baie dankbaar dat die dra van maskers afgeskaf is.

“Baie meer mense word in vandag se tye vermoor en kry ander siektes,” het Roos laat hoor.

’n Inwoner van Diamantpark Aftreeoord, Alet Mostert, het weer vertel dat die afstand tydens inperking haar negatief beïnvloed het.

“Die inperking was vir ons so erg, maar gelukkig kon ons darem so ’n bietjie in die oord buite rondbeweeg, maar ook net op ’n afstand.

“Ons kon nie eers by van die ander oorde in die dorp gaan kuier nie,” het Mostert gesê.

“Covid-19 sal altyd met ons wees, die impak op die ekonomie, die gepaardgaande lewensverlies en die herinneringe, goed en sleg, aan die dae van inperking.

“Die skole en baie besighede wat toe was. My eie kind wat sy laaste jaar op skool aan geen sport kon deelneem nie, nee, dit alles het nie sommer net so weggegaan toe ons nie meer maskers hoef te dra nie.

“Ons gaan dit nog vir lank aan ons sakke en herinneringe voel, máár dit bly wonderlik om nie meer ’n masker te moet dra nie.

“Ek voel weer heel, ek voel weer in beheer van myself,” het nog ’n bekende inwoner, wie kies om anoniem te bly, aan Streeknuus gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button