Die Mampoerfees by die immer gewilde Willem Prinsloo Museum het die afgelope naweek Rayton-omgewing laat gons.
Die country-legendes Tommy Dell en Barbara Ray het die gemeenskap vermaak saam met Pieter Koen wat ook die verhoog warm gesing het.
Daar was ’n uitstalling van werkende enjins en trekkers, sowel as n veteraan-motorsuitstalling en meer as honderd stalletjies met verskeidenheid waarvan feesgangers kon kies en keur.
“Dit is die eerste keer in drie jaar wat die Mampoerfees weer aangebied is. Ons het voor die Covid-inperking al meer as 30 jaar se feeste gehad, het terreinkurator, Julia Roelofse, laat hoor.
Daar was ’n nasionale mampoerkampioenskap-prysuitdeling, sowel as boeresport en ’n sweepklap-kompetisie en sowat 2 000 feesgangers.
“Die nasionale mampoer-gilde hou ’n beoordeling van die mampoer-inskrywings en die wenners is aangekondig op die fees,” het Roelofse bygevoeg.
Daar was mampoer van perskes, sitrus, pynappels, vye en vele meer, selfs ’n doepa uit die Pedi-kultuur.
Lofty Ellis het al die pad van Stellenbosch in die Boland gekom om as die hoof-beoordelaar van die mampoer te dien.
Vir die jongspan was daar ’n 11m-lange glybaan, ’n spookhuis by die Ou Plaaswerf tesame met ponie-, kameel-, donkiekar-, ossewa- en mini-treinritte.















