Delmas-leerders geniet landsdienskamp
Daar was uitdagings, persoonlike hoogtes en nuwe vriende tydens die kamp gemaak.
Leerders van Hoërskool Delmas en Laerskool Delmas het in die skoolvakansie ’n Mpumalanga provinsiale landsdienskamp by die Blyde Adventure Camp in Hoedspruit bygewoon.
Mpumalanga het tans 6 193 geregistreerde landsdienslede, wat insluit hoër- en laerskole sowel as volwassenes.
Die laerskoolgroep het op Donderdag, 23 Junie vertrek en weer op 27 Junie teruggekeer, terwyl die hoërskoolgroep op Dinsdag 29 Junie vertrek het en weer op 3 Julie huiswaarts gekeer het.
Daar word op ’n kwota van bywoners per klub besluit en die hoërskool-leerders wat gekies was om die kamp by te woon, is Demitrie Botes, Heinrich Wiese, Alicia van der Walt, Rico van den Berg, Marcus Erasmus, Letitia Botes, Steffan Budgen, Cindy Luies, Louis Rossouw, Lezandi Botes en Anke Wiese.

Die groep was vergesel deur Heleen Human, klubleier, Elna Budgen, en Heleen Human (jnr.).
Volgens Human, was dit ’n baie opwindende tyd met baie leersame en gesonde aktiwiteite. Human is ook deel van die Mpumalanga Landsdiensbestuur.
Aktiwiteite het ingesluit die roei op die rivier op binnebande, ’n hindernisbaan, die opstapel van reddingsbootjies, die speel van vlugbal, daar moes danse uitgewerk word volgens ’n sekere liedjie en vele meer.

“Hulle moes onder andere ook leerbandjies vleg,” het Human laat hoor.
Tydens die leerders se arbeidsprojekte moes hulle die onkruid, Lantana, uitroei, spruit skoonmaak en grond voorberei vir die aanbring van ’n groentetuin.
Die leerders en onderwysers het die avontuur geniet.

“Dit is goed om ons kinders van hul selfone weg te kry en nader te bring aan die natuur.”
Volgens Human was die verrigtinge elke dag geopen met bewusmaking en saans afgesluit met gebed.
Volgens die leerders, is dit juis die vroeë oggende, lang besige dae en laat aande wat ’n kamp lekker maak. Daar was uitdagings, persoonlike hoogtes en nuwe vriende tydens die kamp gemaak.

Die Dellie-landsdiensdeelnemers het Mpumalanga Landsdiens, Hoërskool Delmas sowel as hul ouers vir die geleentheid om die kamp by te woon, bedank.
“Die kamp was ’n fees” het die kampbywoners op Hoërskool Delmas se Facebook-blad laat hoor.




