Die aanhoudende waterkrisis op dorpe in Delmas-omgewing bly ’n groot kopseer
“Die gereelde watervoorsiening onderbrekings hou vir ons almal ’n geweldige gesondheidsrisiko in, dit kan net so aangaan nie.”
Vir die inwoners van Eloff, Sundra en Rietkol hou die aanhoudende waterkrisis geen silwer randjie om die donker wolk in nie.
Inwoners moes onlangs weer vir langer as ’n week sonder water klaarkom.
Gedurende dié tyd het sommige inwoners geen druppel uit hul krane sien kom nie.
Vir die eienaar van Supergel op Sundra (wie verkies om anoniem te bly), het die aanhoudende watertekort ’n enorme uitwerking op sy onderneming.
Supergel is bekend vir die vervaardiging van huishoudelike chemikalieë.
Supergel voorsien skoonmaakmiddels aan baie groot besighede, fabrieke en huishoudings.

“Onder normale omstandighede hou die besigheid gemiddeld sowat 35 000l water in voorraad.
“Dit word vir die vermenging van ons produkte gebruik.
“Ons daaglikse gebruik is sowat 5 000l. Hoe moet ’n mens maak wanneer daar net nie meer water is nie?
“Ons kan nie eens die toilette op die perseel spoel nie. Soms wonder ek of ek nie ek die besigheid se deure net moet sluit nie?,” het dié sakeman Streeknuus meegedeel.
Volgens hom, gebeur dit gereeld dat hulle nie water kry nie.
“Tydens beurtkrag is dit ook nie makliker nie.
“Dán is die pomp by Modderbee af en dán is die pomp by die Sundra-watertoring af. Ons besigheid is boonop ook op een van die hoogste punte geleë en daarom het ons baie watertekorte.”
Volgens dié man, kry die reservoir weens beurtkrag nie genoeg water voordat die krag weer erens onderbreek word nie.
“Ons besigheid trek daarom gereeld aan die kortste punt wat watervoorsiening betref.”
Teen druktyd het Streeknuus die man gekontak en volgens hom was die watertoevoer weer herstel.
“Ons is dankbaar vir nou.”
“Die gereelde onderbrekings in watervoorsiening hou vir ons almal ’n geweldige gesondheidsrisiko in, dit kan net so aangaan nie.
“Die verskonings en storietjies is baie, die oplossings geen,” het Heila Coetzee, van die Eloff Buurtwag gesê.
Coetzee het ook teen druktyd bevestig dat haar huishouding weer water het.
Nog ’n Sundra-inwoner het van haar laat hoor.
“Ons is so moeg vir verskonings. Nadat AfriForum die hofsaak gewen het toe Randwater ons waterdruk met meer as 50% verminder het, het dit aanvanklik beter gegaan.
“Maar nie vir lank nie.
“Ons is moeg vir verskonings.
“Dan is dit gebarste pype, dan is dit kabels wat gesteel is en nou is die dat die kragopwekkers by Modderbee en die Sundra-watertoring nie werk nie.
“Hoe kan dit nie werk nie? Mense moet water hê.
“Daar word bloot net nie instandhoudingswerk gedoen nie en verskonings bly volop.
“Niemand neem verantwoordelikheid vir ons waterkrisis nie. Die blaam word net die hele tyd geskuif.”
Klagtes oor watertenks wat nie gevul word nie, het ook sosiale media oorstroom.
“Die vul van dié tenks het wel nou weer baie uitdagings ingehou,” het Diane Bath, DA-raadslid by die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) gesê.
“Daar is slegs twee watertenkers en dié moet ook aan die buitewyke van Delmas, wat Waaikraal, Argent en so meer insluit, water lewer.
“Daar sal ’n amptenaar uitgewys word wat vir die vul en instandhouding van die watertenks verantwoordelik sal wees,” het Bath bygevoeg.

Volgens Bath, was daar op 12 Julie ’n tegniese vergadering by VKLM gehou waartydens die waterprobleem onder andere ook bespreek is.
Volgens die terugvoer vanaf die vergadering, is die kragopwekker by Sundra herstel en sal daar ’n persoon in plek gestel word wie se plig die weeklikse instandhouding van die kragopwekker sal wees.
Bath het ook gesê dat daar glo planne is om die kragopwekker by die Modderbee-pompstasie te vervang.
Die verkryging van die nodige geld is glo deel van die beplanning.
“Ons druk al vir maande, indien nie jare hiervoor. Dit is egter nou die begin van die finansiële jaar en die proses mag daarom lank neem.”
Daar sal glo ook grootmaat-meters by die watertorings geplaas word en beter instandhouding behoort gedoen te word.
Teen druktyd was daar wel weer water in die krane van Sundra, Eloff en Rietkol en kon inwoners weer bad, wasgoed was en kos kook.
“Dankie tog ons het weer water, met die skole wat vandag geopen het, sou dit weer nag wees sonder water,” het een inwoner laat hoor.



