Die aarde se son sak oor tannie Lettie Klopper van Delmas
Tannie Lettie was bekend as Laerskool Delmas se Biblioteek-tannie. Na 46 jaar het sy egter die tuig neergelê. Haar eggenoot, Chris het haar in 1993 ontval, maar sy het steeds in Delmas aangebly.

Tannie Lettie Klopper (97) was glo baie lief vir die sonsondergang en nou het die aardse son finaal oor haar gesak.
Sy is op Woensdag, 6 Julie dood.
Tannie Lettie is op 29 Mei 1925 op ’n plaas in die Ottosdal-omgewing in die ou Wes-Transvaal gebore.
Sy was die tweede dogter van Barend, meulenaar van beroep, en Aletta Botha, ’n nooi Janse van Rensburg, die dogter van die befaamde Siener van Rensburg.
Tannie Lettie was een van 10 kinders.
Ten tye van haar afsterwe, het sy reeds sewe van haar broers en susters aan die dood afgestaan.
Dit het glo vir tannie Lettie erg gepla dat ses van haar afgestorwe broers en susters jonger as sy was toe hulle gesterf het.
Volgens haar skoonseun, Piet Steenkamp, was sy lief om blokkiesraaisels in te vul en met haar geheue het daar ook niks geskort nie.
Tannie Lettie het glo ook baie interessante staaltjies vertel.
Een daarvan sou wees van hoe sy as vyfjarige dogtertjie saam met haar ousus Anna op die donkiekar moes skool toe ry, want ousus kon glo nie alleen met die donkiekar ry nie.
“Bid jou aan, die koue winter in die ou Wes-Transvaal met sy wit gerypte aarde. Daar moes natuurlik eers ingespan word en daarna moes die kleine Lettie vir sewe ure agterop die donkiekar saam skool toe ry.
“Daar aangekom, moes die donkies uitgespan word, sy moes klas toe en sy was maar net vyf jaar oud,” het Steenkamp gesê.
Tannie Lettie kon verder glo ook in detail uitbrei oor hoe lui en traag die donkies, veral soggens, was.
“Die bitter koue was in haar geheue vasgeprent.
“Dit was vir haar ’n vreeslike straf. Sy het tot haar dood daaroor gepraat.”
Tannie Lettie het haar loopbaan in onderwys aangepak en het op verskeie plekke skoolgehou, onder andere Kinross, Evander, Johannesburg en Potgietersrus, maar sy was veral bekend op Delmas.
“Sy het haar eie kinders, Christo en Elize grootgemaak, maar baie ander kinders het ook aan haar hand onderrig ontvang.”
Tannie Lettie was bekend as Laerskool Delmas se biblioteek-tannie.
Ná 46 jaar het sy egter die tuig neergelê.
Haar eggenoot, Chris, het haar in 1993 ontval, maar sy het steeds op Delmas aangebly.
Ná haar seun, Christo, se dood, het sy in 2009 na Eloff verhuis waar kleindogter Alett en haar eggenoot, Frans Coetzee na haar omgesien het.
Ook hier het sy in haar eie woonstel gebly en haar blom- en groentetuin self versorg.
Die familie het die Coetzee’s bedank dat hulle so mooi na ouma Lettie omgesien het.
“Daar is nie nog iemand wat so ’n goeie skoonma gehad het nie. Sy was altyd bereid om te luister en om met woord en daad by te staan,” het Steenkamp ook gesê.
Lettie Klopper se roudiens sal op Saterdag, 23 Julie om 10:00 vanuit die Hervormde Kerk op Delmas plaasvind onder leiding van dr. Martin van Rensburg.



