Malita-inwoners op Delmas kry geskenke op Madiba-dag
“Ons het hande bymekaar gesit en die personeel het die bederfies gebring. Ons as maatskappy het gevoel dat dit nodig is om ons senior burgers in ons gemeenskap vanaf ’n maatskappy vanuit die gemeenskap te ondersteun en iets spesiaal vir hulle op hierdie belangrike dag, naamlik Nelson Mandela-dag te doen.
Mandela-dag word elke jaar op Nelson Mandela se geboortedag, 18 Julie gevier.
Dié dag word gevier deur vir 67 minute iets goedhartig by te dra tot jou gemeenskap en sodoende verandering te bring tot ’n behoeftige individu of gemeenskap se lewens.
Astral en Meadow Feeds het daarom besluit om die seniorburgers van Malita -op Delmas te bederf as deel van hul 67 minute vir die gemeenskap van Delmas.
Kartonhouers met eetbare- en bruikbare geskenkpakkies is om 13:00 op 18 Julie deur personeel van Astral Foods en Meadow Feeds by Malita oorhandig.

“Ons het hande bymekaar gesit en die personeel het die bederfies gebring waarmee ons die geskenkpakkies gevul het.
“Ons as maatskappy, het gevoel dat dit nodig is om ons seniorburgers in ons gemeenskap vanaf ’n maatskappy vanuit die gemeenskap te ondersteun en iets spesiaal vir hulle op hierdie belangrike dag te doen.
“As deel van ons 67- minute het ons dus hierdie geskenkies vir Malita se bejaardes bymekaar gesit,” het Sonja Viljoen namens Astral en Meadows, met die oorhandiging gesê.
Viljoen het ook die seniorburgers sterkte toegewens en gesê dat die pakkies met die grootste liefde oorhandig word.
Sy het bygevoeg dat hulle (die bejaardes) dit moet geniet.

“Ons sien julle raak en wil graag hê dat julle ons ook moet raaksien vir die klein iets wat ons teruggee aan die gemeenskap.”
Op sy beurt het Rassie Erasmus, die opsigter by Malita Aftree-oord, vir Astral en Meadows bedank vir dié pragtige gebaar.
Ook Gianni Sansovini van Meadow Feeds het sy bedanking uitgespreek teenoor almal wat bygedra het tot die seniorburgers se bederf-pakkies.
“Sommige van die inwoners het byna niks en dit is daarom vir ons (Meadows en Astral) ’n groot voorreg om vir ons seniorburgers iets spesiaals te kan gee en doen,” het Sansovini gesê.
As deel van die personeel van Meadow Feeds, het Afrika Mabena die verrigtinge bygewoon.
Op 72 is Mabena ook reeds ’n seniorburger.
Volgens Mabena, het hy in 1975 by Meadows op Delmas begin werk en sal hy die maatskappy teen die einde van die jaar verlaat met 47 jaar diens agter sy naam.
Mabena was daarom ’n baie spesiale toegewing tot die dag se aktiwiteite rondom Mandela-dag by Malita Aftree-oord.




