Eindelik vry uit dwelmhel – paartjie van Delmas vertel
“Oom help ons asseblief, ons moet hier uitkom, ek kan myself nie help nie. Hier gaan ek doodgaan.”
Daarsónder kon hulle nie, maar daarméé kon hulle ook nie meer nie.
Dit is die verhaal van twee Delmas-inwoners wat aan die dwelm nyaope verslaaf was.
“Ek kon net nie meer nie, ek kon ook nie self nie, ek wou net doodgaan,” het Tyrone gesê.
Tyrone (39) en sy lewensmaat, Helen (47) se paadjies het op ‘n plaas buite Delmas in die Argent-omgewing gekruis.
Dit was so sowat ses jaar gelede. Helen het met die skape op die plaas gewerk en Tyrone het herstelwerk aan die trekkers gedoen. Kort voor lank was die paartjie onafskeidbaar.
“Ons het albei reeds dagga gerook terwyl ons op die plaas gewerk het,” het Tyrone gesê.
Hy het ook op die plaas vir die eerste keer met nyope kennis gemaak.

Weens ongunstige omstandighede moes hulle egter die plaas verlaat en het hulle tydelik by Tyrone se ouers op Delmas-Wes gevestig.
Aan die hand van Tyrone, ‘n motorwerktuigkundige, het Helen alles omtrent ‘n voertuig geleer en was sy Tyrone se regterhand.
By die Indiër-plaza het hulle vinnig ‘n baie groot kliëntebasis opgebou en voertuie was sommer daar op die sypaadjie en agter die gebou herstel. Volgens die paartjie, was die drang na nyaope net altyd daar.
“Jy kan later nie meer daarsonder nie, jy weet jy moet ophou, maar jy kán nie.”
Verhoudinge by Tyrone se ouerhuis het versuur en die twee het hul ‘permanente’ intrek agter die Indiër-plaza geneem.
Met die uitbreek van Covid-19 en die inperking het dinge vir die twee nie goed gegaan nie.
“Ons mag nie op straat gewees het nie, ons inkomste was weg en daar was nie geld vir dwelms nie.”
Tog het Tyrone en Helen weer aan voertuie begin werk en die geld was goed.
“Ons het nooit eintlik ‘n skaarste aan geld gehad nie. Daar moes net genoeg wees vir ons ‘fix’ en iets om saans te eet.”
Volgens Tyrone, het hy ook gedrink, baie gedrink, maar kon steeds daarin slaag om sy kliënte gelukkig te hou.
So het dit dan gekom dat die paartjie permanente straatbewoners geword het.

Volgens hulle, het hulle vir meer as ‘n jaar nie ‘n bad gesien nie.
Hulle het gewerk, nyaope gebruik, gaan slaap en weer gewerk.
“Daar was dae wat ons R3 000 verdien het en dit net so aan dwelms bestee het.”
Sommige nagte het ‘n sekere groep ons kom deursoek, ons met sambokke aangeval en geslaan.
“Daar was wat vas geglo het dat ons die verspreiders was, maar ons was nie, ons het gekoop.”
Gedurende Mei het lede van die gemeenskappolisieëringsforum (GPF) ‘n besoek aan die gebied gebring.
“Ek het ‘n oom gesien, hy was die kortste in die groep, maar in my oë was hy ‘n reus.”
Tyrone vertel dat hy reguit na die man toe gestap het en gesê: “Oom help ons asseblief, ons moet hier uitkom, ek kan myself nie help nie. Hier gaan ek doodgaan.”
Dié oom was Carel Botha, ‘n lid van die GPF.

“Ek het vir ‘n paar dae rondgeloop, nie geweet waar om te begin of hoe om te help nie,” het Botha gesê.
Volgens Botha, het hy ‘n plaaslike predikant gekontak wie weer in kontak gekom het met ‘n persoon wat die nodige leiding kon neem.
Die wiel het vinnig gerol en na sowat drie weke was Tyrone en Helen na ‘n plek van veiligheid in Vanderbijlpark geneem.
“Ons was daar vir vyf weke.
“Die onttrekking was erg, maar met behulp van die regte medikasie kon ons daardeur.
“Die mense was uiters behulpsaam en ons was goed behandel.”
Terug op eie bodem het die paartjie tydelik woonplek by die N.G. Kerk Wes op Delmas gekry en met die hulp van die gemeenskap, slaap hulle warm en skoon.
“Die craving bly daar, ek wil dit nog hê, maar ek baklei.”
Teen druktyd het Tyrone en Helen ook ‘n perseel gekry waarin hulle weer motors kan diens en herstel.
Met Streeknuus se besoek aan die twee was hulle weer kliphard aan die voertuie herstel.

“Baie dankie vir almal wat gehelp het om ons uit daardie aaklige nyaope-gat van dwelms te kry.
“Dankie oom Carel dat jy daardie dag na my geluister het. Dankie Adriaan, dankie oom Carel dat ons jou werkswinkel kan gebruik, dankie aan die Here, ons is almal ewig dankbaar.
“Ek wil nou hard werk sodat ek weer op my voete kan kom en vir myself en Helen kan sorg.
“My trotse geaardheid maak my skaam om alles net gratis van mense te ontvang.”
Volgens Tyrone, werk hy nou sodat hy op 60 kan aftree.
“Ek wil gaan lees en leer oor beleggings en hoe om te spaar. Ek wil vir Helen kan sorg. Sy is my anker.”



