Bekende figuur op Bronkhorstspruit sterf in middedorp
Aanvanklik is vermoed dat hy verkluim het, maar die nadoodse ondersoek het getoon dat sy ingewande ingegee het.
Frans, die bekende figuur op straat is nie meer met ons nie.
Hy was ’n briljante geskiedenis-onderwyser aan Hoërskool Erasmus en het sowat 18 jaar gelede net besluit dat hy die res van sy lewe op straat wil sluit.
Sy lyk is op Sondag, 3 Julie in Bronkhorstspruit se middedorp gevind.
Aanvanklik is vermoed dat hy verkluim het, maar die nadoodse ondersoek het getoon dat sy ingewande ingegee het.
Almal wat Frans geken het, het hom as briljant beskryf.
Hy was ’n uitstekende skaakspeler wat Suidoos-Transvaalkleure verwerf het en het soms teen sy hele klas skaak gespeel en gewen.
Hy het ook as gasspreker by Geloftefeeste opgetree en het oor ’n meestersgraad in geskiedenis beskik.
Frans het op ’n dag net eenvoudig uit die klaskamer en die lewe van sy gesin gestap.
Die alkohol het oorhand oor hom gekry en alle pogings om hom te rehabiliteer, was tot mislukking gedoem.
Sy gesin, vriende en kennisse het almal op een of ander tydstip hom by ’n rehabilitasiesentrum ingeboek, maar dit het niks gehelp nie.
Enkele dae nadat hy uit die sentrum ontslaan is, het die bottel weer die oorhand gekry.
Sy gewese vrou het gesê dat dit die ergste graad van alkoholisme was wat sy ooit gesien het.
Volgens haar, het Frans nooit die dood van sy moeder verwerk nie.
Sy het ’n gedig aangehaal wat Frans oor sy moeder geskryf het:
“Die Geel Roos was maar altyd daar, haar skoonheid ongeskend. Die Geel Roos was my lewe, sonder haar kon ek nie lewe. Ek onthou nog hoe’t ek gebewe, toe ek sien die Roos hang skeef”.
Frans se eksvrou het die inwoners van Bronkhorstspruit bedank vir die wyse waarop hulle Frans deur al die jare behandel het.
Sy het ’n gedeelte van ’n lied wat Amanda Strydom gesing het, “Totius se gedig”, aangehaal en gesê dít was Frans.
Die wereld is ons woning nie. Totius sou verstaan.
Ek reis al meer na binne
Tot dit tyd word om te gaan ..
Frans het in die ouderdom van 74 jaar gesterf.
Die volgende is n gedig vir Frans uit die pen van Hennie Egen:
BEGRAFNIS
Met familie en kennisse het ek by sy oop graf gestaan.
Vir hom het die klok finaal geslaan.
Hy is verlos van die dorings van hak-en-steek uit wie se pynigende kloue hy nie kon los breek.
Soos n korreltjie sand in n stormwind, kon jy nerens in die lewe vrede vind.
Jy het gesoek soos n dwalende gees maar nerens kon jy gelukkig wees.
In die dood het jy rus gevind. Jy die Boemelaar, God se kind.



