Local newsNews

Delmas VLU-tak kuier tussen die bye en proe heuning

“Ons gids het ons ook deur die pragtige tuin met grasperke, plate varkore en hoë bome begelei. Die atmosfeer was so rustig en vredevol, ’n ware lafenis vir die siel.”

Met heuning as die Delmas VLU-tak se produk van die jaar, was ’n uitstappie na ’n heuningplaas onvermydelik.

Die groep vroue het op Dinsdag, 18 Oktober ’n besoek aan die Highveld Honey Farms in Benoni gebring.

Volgens die VLU se skakelbeampte, Magriet Swart, is die Highveld Honey Farms reeds in die 1960’s gestig en is hulle een van die grootste heuningproduseerders in die land.

Die vroue is ingelig oor die bykans 8 000 byekorwe wat regdeur die somer hanteer word.

“Hulle is ook betrokke by die produksie en verskaffing van heuningtoerusting vir byeboere.”

Die bye word geneem na blommende aalwyne, lemoenbloeisels, makadamia’s, bloekoms en sonneblomme wat weer die verskillende unieke smake en selfs kleure aan die heuning gee.

Chané Wessels was die groep vroue van die Delmas VLU se gids.

“Sy het die proses van heuning vanaf stuifmeel tot die finale produk in die botteltjies op die rakke breedvoerig aan ons verduidelik.”

Wessels het verder vertel dat daar gepoog word om heuningplase so stil as moontlik te hou en word daar liefs weggebly van geluide soos grassnyers, erge verkeer en selfs kragopwekkers.

“Dit maak die bye glo aggressief. Die bye word eenkant en met die minste lawaai gehou sodat die wonderwerk van heuning kan gebeur.

“Ons gids het ons ook deur die pragtige tuin met grasperke, plate varkore en hoë bome begelei. Die atmosfeer was so rustig en vredevol, ’n ware lafenis vir die siel.”

Wessels bedryf ook die Koi-visboerdery, wat net as stokperdjie bedryf word.

“Die heuning-proe was ’n absolute hoogtepunt, ons het selfs geroomde heuning kon proe.”

Volgens Swart was elkeen van die dag se aktiwiteite ’n hoogtepunt. Die vroue het hul uitstappie by ’n koffiewinkel afgesluit.


LEES OOK: Foreign nationals remanded in custody in Standerton’s neighbouring town


“Om elke hoekie en draai was daar tafeltjies en stoeltjies in eg Franse Flair. Die tuin was kreatief verfraai. Daar was selfs ’n ‘Secret Garden’, kompleet met hiërogliewe, draadengeltjies, krone, hangende stoele met blomme, hartjies wat afhang en kliphasies op tafels.”

Volgens Swart het die Delmas VLU-tak se vroue begeesterd, bevredig en versadig huiswaarts gekeer. “Hierdie plekke sien ons weer.”

Die voorsitter, Marié Terblanche, het alle belangstellende vroue van 18 jaar en ouer genooi om haar by 083 968 2203 te kontak.

“Kom en word deel van die gesellige saamwees, die kreatiwiteit en die leersaamheid van Delmas se Vroue Landbou-unie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button