Agt-maande-oue leukemie-lyer van Secunda kry beenmurgoorplanting
Lydia sal binnekort ’n beenmurgoorplanting kry.
SECUNDA – Klein Lydia van Deventer (agt maande) is met leukemie (bloedkanker) gediagnoseer toe sy net vier maande oud was.
Haar ma, Estelle van Deventer (34) het gesê haar babatjie het vir haar bietjie geel gelyk en sy het dit vir die klinieksuster genoem, maar hulle het gedink dit is geelsug omdat Van Deventer borsvoed.
Dit het egter erger begin raak en Van Deventer het besef Lydia lyk eintlik meer bleek en nie geel nie en toe sy haar dokter toe geneem het vir ’n ooginfeksie, het sy dit vir die dokter genoem.
“Hy het dadelik bloedtoetse gedoen en die volgende dag geskakel en gesê sy het leukemie.
“Dit was ’n groot skok vir ons en die laaste ding wat ons verwag het,” het Van Deventer gesê.
Die gesin het klein Lydia dieselfde dag na ’n onkoloog in Pretoria geneem waar sy chemo-behandeling gekry het en Van Deventer het eers vyf weke later weer haar huis op Secunda gesien.
Sy was die laaste ruk net vir drie afsonderlike weke tuis.
Van Deventer se man, Theo van Deventer, het na die egpaar se twee seuntjies, Louis (4) en Christoff (6), omgesien.
“Dit is maar moeilik vir ons almal, want die twee seuns is gewoond daaraan ek het hulle altyd skool toe geneem en weer gaan haal en na hul buitemuurse aktiwiteite geneem het,” het Van Deventer gesê.
Omdat sy borsvoed, moet sy permanent by klein Lydia bly terwyl sy in die hospitaal is en chemo-behandeling of bloedoortappings kry.
Gelukkig is die chemo-behandeling klaar vir nou en die volgende stap vir Lydia is om ’n beenmurgoorplanting te ondergaan.
Die gesin het reeds ’n skenker vir haar gekry en hulle sal vandag (Dinsdag, 8 November) hoor wanneer Lydia vir die oorplanting kan gaan.
Die skenker is ’n Suid-Afrikaner en die gesin mag eers ses maande later weet wie die skenker is om hom of haar te bedank.
“Baie van die ander babas in die saal het Europese skenkers gekry omdat baie Suid-Afrikaners mos maar van Europese afkoms is,” het Van Deventer gesê.
“’n Week voor die oorplanting, sal Lydia baie sterk chemo-behandeling moet kry om haar beenmurg uit te wis en na die oorplanting gaan ek en sy vir weke, dalk selfs maande in isolasie in die hospitaal moet wees.”
Dit sal ’n kritiese tyd vir Lydia wees en die twee groot gevare is dat die nuwe selle haar liggaam kan aanval, orgaanversaking kan veroorsaak of dat sy infeksies kan opdoen.
LEES OOK: Vote of no confidence in Lekwa mayor and speaker rejected overwhelminlgly
Van Deventer het gesê Lydia hou haar baie besig en sy was nog nie vir een oomblik verveeld gedurende die lank tye wat sy in die hospitaal moet deurbring nie.
Sy beplan om baie boeke, tydskrifte en breiwerk saam te neem vir die isolasie tydperk.
Daar is ’n kans dat die kanker kan terugkom na die oorplanting, maar die Van Deventers glo in die krag van gebed en dat klein Lydia na die prosedure gesond sal wees.
Van Deventer het almal van die gemeenskap wat reeds vir die gesin gebid het, bedank en mense gevra om steeds vir hulle te bid.
“Ek het nooit besef hoe baie bloed of bloedplaatjies nodig is vir chemo-behandeling nie,” het Van Deventer wat ’n fisioterapeut is, gesê.
Sy het mense aangemoedig om gereeld bloed of plaatjies te gaan skenk as hulle kan. Sy self het jare laas bloed geskenk, maar wil weer begin so gou as wat sy kan.
“Bloedoortappings is nou deel van ons lewens en daar was al ’n paar kere ’n tekort aan plaatjies bloed vir Lydia en ek is spyt ek het nie vroeër in my lewe meer gereeld gaan bloed skenk nie.”
Sy het mense ook aangemoedig om hulself te gaan registreer as ’n beenmurgskenker.
“Enige iemand kan beenmurg skenk en dit is nie so ’n ingewikkelde proses as wat baie mense dalk dink nie en dit duur ook nie so lank nie.
“Ek het nie woorde om ons dankbaarheid te beskryf dat iemand vir my dogtertjie beenmurg wil skenk nie.”
Belangstellendes kan by https://sabmr.co.za/ registreer om ’n beenmurgskenker te word.




