AfriForum Valke Buurtwag op Delmas sluit 2022 met gesellige funksie af
“Oor die afgelope 12 jaar het lede verhuis, sommige bedank en ons het ook al ’n paar van ons lede aan die dood moes afstaan, maar steeds bly ons buurtwag groei”.
AfriForum se Delmas Valke Buurtwag het na ’n jaar van patrollies, bystand op misdaadtonele, verkeerbeheer tydens ongelukke en eerstehulpbystand, ’n aand geneem om saam te kuier.
Die gesellige kuier om die braaivleisvuur het op Vrydag, 18 November by die Delmas Rolbalklub plaasgevind.
Beurtkrag het nie die gemoedelike stemming gekniehalter nie, ’n kragopwekker is vinnig ingespan en die groep kon verder onder die sterre en rondom die groot vuur kuier.
Die Valke Buurtwag is reeds vir 12 jaar met sy aktiwiteite besig en het ook in 2016 ’n volwaardige AfriForum Buurtwag geword.
“Dit was nog maar altyd die reëling dat daar aan die einde van elke jaar ’n funksie sou wees waartydens daar erkenning gegee word aan ons lede wat uitsonderlik baie vir die gemeenskap en die buurtwag self doen. Die Covid-epidemie het egter ons 10-jaar viering aan die einde van 2020 in die wiele gery,” het Carel Botha, voorsitter, gesê.
LEES OOK: Bronkhorstspruit is gasheer vir rokerskompetisie
Volgens Botha het die buurtwag dus vroeër vanjaar hul formele funksie, waartydens erkenning gegee is en ook die 12-jarige bestaan gevier is, gehou.
“Ons het egter besluit om tog weer in normale jaareind-roetine te kom en dié jaar op ’n gesellige, maar informele wyse af te sluit.”
Botha, wat ook die stigterslid van die Valke is, het verder genoem dat die buurtwag met ’n skamele vier lede begin het en stelselmatig deur die jare gegroei het.
“Oor die afgelope 12 jaar het lede verhuis, sommige bedank en ons het ook al ’n paar van ons lede aan die dood moes afstaan, maar steeds bly ons buurtwag groei.
“Ons is tans ook gelukkig om ’n paar jong aktiewe lede in ons midde te hê. Dit bring gemoedsrus, want ons weet in geval van nood, kan daar ’n radio se knoppie gedruk word en bystand sal verleen word,” het Botha gesê.
LEES OOK: Bronkhorstspruit-kunstenaar Riaan Jacobs se werk laat mense praat






