Solidariteit Helpende Hand reik uit na Ons Eie Ouetehuis op Delmas
Sharon Rabie, bestuurder by Ons Eie, sowel as suster Susan Biddlecombe het hul opregte dank teenoor Ons Winkel uitgespreek.
Solidariteit Helpend Hand se Ons Winkel op Delmas het ’n skenking van ’n rolstoel en looprame aan Ons Eie Ouetehuis op Delmas gemaak.
Leandri du Plooy van Solidariteit Helpende Hand en Johan Fourie van Ons Winkel het op Donderdag, 24 November die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se Ons Eie Ouetehuis besoek en die skenkings gemaak.
“Ons kry soms hierdie soort skenkings van die publiek, maar voel dat ons dit nie wil verkoop nie, dit dien ’n beter doel as skenking hier by ons ouetehuis,” het Fourie gesê.
Sharon Rabie, bestuurder by Ons Eie, sowel as suster Susan Biddlecombe het hul dank teenoor Ons Winkel uitgespreek.
Fourie het beklemtoon dat skenkings aan Ons Winkel op Delmas, Helpende Hand in staat stel om ’n volhoubare verandering in die gemeenskap te bewerkstellig.
LEES OOK: Delmas-vrou ontvang nou broodnodige dialise tuis
“Verskeie projekte word deurgaans geloods waarmee ons die gemeenskap ophef en bevorder.
“Jou oortollige items in die huis of motorhuis kan bydra tot ’n studielening vir ’n minder gegoede jongmens uit die gemeenskap.
“Enige huisraad, kombuisware, elektriese ware, meubels, gereedskap, klere of enige iets wat in die pad staan, kan aan Ons Winkel op Delmas geskenk word.”
Fourie het gesê indien die publiek ’n skenking wil maak maar nie oor vervoer beskik nie, is hy selfs bereid om daardie items by jou woning af te haal. Solidariteit se Ons Winkel is in Derdestraat 19 geleë. Fourie kan by 082 062 3310 gekontak word.
“Daar is goeie winskopies in Ons Winkel, kom loer gerus in. Ons vriendelike personeel is daar om te help.”



