Hier bly die liggies aan selfs deur beurtkrag
Steve Hofmeyr tree op 10 Desember op en Touch of Class op 17 Desember.
’n Liggies-skouspel het van 24 to 26 November by Legends Adventure Farm in Rayton afgespeel met besoekers wat van vêr en wyd dié wonderland besoek het vir die jaarliksie Kersliggies Oppi-Plaas Fees.
Dié fees vind tot 17 Desember elke Donderdag, Vrydag en Saterdag op die gronde plaas.
Vanaf die aankoms, is dit ’n towerspel van liggies.
Daar is alles, van kosstalletjies tot geskenkidees en veilige speelgeriewe vir die kinders waar hulle hulself kan verloor in klank, geur en kleur.
Boekmerk dié datums, want kunstenaars wat nog ’n verskyning gaan maak, is Steve Hofmeyr op 10 Desember en Touch of Class op 17 Desember.
Jacques en Martin Bester het reeds opgetree.
Toegang is R50 per persoon vir Donderdae en Vrydae. Toegang vir Saterdagaand wanneer Steve optree, is R130 per persoon en vir Saterdag, 17 Desember is die toegang R100.
Hoërskoolleerders betaal egter net R30 elk vir Donderdae en Vrydae, en R50 vir Saterdag 10 en 17 Desember.
Laerskoolleerders en jonger kinders se toegang is gratis.
’n Gedeelte van die kaartjieverkope gaan aan HelpNet, ’n organisasie wat omsien na kinders wat weens veiligheidsredes uit hul ouerhuise verwyder moes word.
Dit is die tweede jaar wat Kersliggies Oppi-Plaas hierdie organisasie ondersteun.
Verlede jaar is sowat R15 000 vir dié organisasie ingesamel.
Die organiseerders wil die bedrag vanjaar verdubbel.
HelpNet het op 1 Desember ’n tweede huis van veiligheid oopgemaak.
Die geld wat deur Kersliggies Oppi-Plaas ingesamel word, sal gebruik word om hierdie tweede huis vêrder toe te rus.
Vir meer inligting oor die projek, stuur ’n epos na jolandaj@helpnet.org.za.
Die hekke maak elke Donderdag, Vrydag en Saterdag om 18:00 oop en die adres is Legends Adventure Farm Rhino Park, R515-pad, Donkerhoek, net oos van Pretoria.
Vir meer inligting, stuur ’n epos na info@pretoriafees.co.za; of skakel 074 120 0279. Alle inligting is ook beskikbaar op www.kersliggies.co.za.












