Kosmos Aftree-oord se bestuurder bedank gholfdag-onderteuners
Bestuurder bedank gemeenskap vir ondersteuning.
Die bestuurder van die Kosmos Aftree-oord, Sanpat Coetzee, het die gemeenskap wat hul onlangse gholfdag ondersteun het, bedank.
Sy het gesê dit is die eerste keer sedert die Covid-19 pandemie begin het, dat hulle dié gholfdag kon aanbied en sy is dankbaar vir die bydraes van boere in die vorm van vleis asook donasies van die gemeenskap en die samehorigheid wat sy by die dag beleef het.
“Ek kon ’n duidelike toename in die gemeenskap se betrokkenheid sien en dit is ’n gemeenskap wat omgee vir hul seniorburgers, dit is ’n besondere gemeenskap,” het Coetzee gesê.
Daar het altesaam 120 spelers ingeskryf vir die gholfdag en daar was groot kontantpryse op die spel.
Al die geld wat by die gholfdag gegenereer is, gaan ten bate van die seniorburgers van die Kosmos Aftree-oord.
Die oord se bestuur het dié dag gereël om die seniors wat swaar kry weens familielede wat hulle onderhou het en na die Covid-19 pandemie hul werke verloor het, te help.
“Baie van ons inwoners is na die pandemie finansieel slegter af,” het Coetzee gesê.
“Ons probeer om dit so maklik as moontlik vir hulle te maak.”



