Local newsNews

Alberto Franco van Standerton geniet loopbaan in politiek

Alberto tree na jare uit familie-besigheid.

Alberto Franco (58) is trots op sy Portugese afkoms, hoewel hy vlot Afrikaans kan praat. Hy het in die sewentigerjare sy oumagrootjie, wat toe al 103 jaar oud was, in Portugal ontmoet. Sy het geleef tot op 105.

Franco woon sedert 1989 op Standerton en het verlede jaar die sakewêreld vir ’n loopbaan in die politiek verruil.

Hy het in Betlehem grootgeword en op hoërskool vir die eerste rugbyspan gespeel en graag aan sport deelgeneem.

Na matriek is hy weermag toe en het ook vir 14 maande in Angola diens gedoen gedurende die oorlog.

“Oorlog is nooit lekker nie, daar was goeie dae en slegte dae,” het Franco gesê.

Hy het na sy dienspligjare in die weermag, by die familie-besigheid op Standerton begin werk en ook deur Unisa begin studeer vir ’n graad in regte, maar hy het net sy eerste jaar klaargemaak omdat die besigheid te veel van sy tyd in beslag geneem het.

Hy is al lank reeds ’n aktivis vir die DA, maar het verlede jaar besluit om ’n raadslid te word.

Dit kom nadat ’n ander DA-raadslid, Rosier de Ville, al lankal aan hom gekarring het om ’n loopbaan in die politiek te oorweeg.

Franco is op Lekwa Munisipaliteit se komitee vir begrotings en tesourie waar hy betrokke kan wees en kan hoor hoe die munisipaliteit se finansiële sake lyk.

Hy is al vir 33 jaar getroud met Tania Franco en die gesin is deur ’n moeilike seisoen vier jaar gelede toe hul volwasse seun, Trevor, in ’n ongeluk tussen Standerton en Secunda dood is.

Die egpaar het nog twee volwasse kinders wat onderskeidelik in die Midde Ooste en Johannesburg woon.

Franco het nie baie vrye tyd nie, maar as hy kans kry, geniet hy dit om te lees, veral boeke oor politiek, om sport te kyk of om tuinwerk of herstelwerk tuis te doen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button