Local newsNewsStreeknuus

Boervrou van Bronkhorstspruit-omgewing beskou aanval op haar man vanaf watertoring, hardloop vir hulp

Die boer het die plaashek probeer sluit, maar is oor die kop gelaan.

Nog ’n boer in die omgewing, besig om sy dagtaak op sy plaas op die grens van Mpumalanga en Gauteng te verrig, is helder oordag op sy plaas op die Arbor-pad in die Bronkhorstspruit-omgewing aangerand.

Die voorval het omstreeks 16:00 op Vrydag, 2 Desember gebeur.

Die boer, wie weens veiligheidsredes anoniem wil bly, het glo saam met van sy plaaswerkers in die omgewing van die plaashek gewerk.

’n Grys Kia Picanto met sewe insittendes het gestop en hulself na bewering as beeskopers voorgedoen.

Nadat die boer verduidelik het dat hy nie enige beeste het om te verkoop nie, het een van die mans begin om hom rond te stamp.

Die boer het probeer om die hek na die plaas te sluit, maar is oor die kop geslaan. Die res van die gesin het hul in die huis toegesluit.

Die gewapende aanvallers het die boer na die plaashuis gedwing en daarop aangedring dat die huis oopgesluit word.

Volgens betroubare inligting, was die boer se vrou op die watertoring doenig, toe sy het die gebeure by die hek gesien het.

Sy het na hul bure gehardloop om hulp te ontbied.

“AfriForum se Argent Plaaswag is onmiddellik gemobiliseer en elke moontlike pad is deur van ons lede toegemaak,” het Wessel Badenhorst, lid van die Plaaswag Streeknuus meegedeel.

“Binne 20 minute was alle paaie in en om die plaas geblok, maar die verdagtes in die Kia was skoonveld. Nuus is versprei dat ’n tweede wit voertuig ook in die omgewing van die plaas is.

“Daar is behoorlik gesoek, maar weens die digtheid van die omgewing het die verdagtes en die voertuie soos spelde in ’n hooimied verdwyn,” het Badenhorst bygevoeg.

Die lede het uitmekaar gespat, wetende dat die verdagtes nie sou kon wegkom nie, maar êrens geskuil het. Die lede het ’n op strategiese wyse weer die gebied binne beweeg.

Ten einde laaste het een van die plaaswaglede die verdagte Picanto, verskuil in ’n bos, gewaar.

Die lede is na dié toneel gemobiliseer en hulle het die verdagtes in ’n bos gevind waar hulle by ’n inisiasie-skool geskuil het.

Ook die tweede voertuig, ’n wit Toyota Corolla, is op dié toneel gevind. Die vuurwapens wat tydens die aanval gebruik is, was egter skoonveld.

“Dit was nie moeilik om die verdagtes uit te ken nie.

“Die inisiasie-skoolgangers was almal nakend, maar 13 mans was ten volle geklee,” het Philip Snyman, voorsitter van AfriForum se Argent Plaaswag gesê.

Die boer en sy werkers het sewe van die verdagtes wat hom na sy huis gedwing het, uitgeken.

“’n Verdere ses, wat glo in die wit voertuig wat in die omgewing van die plaas waar die aanval plaasgevind het, rondbeweeg het, het later na ’n onderonsie onder mekaar erken dat hulle ook betrokke is,” het Snyman bygevoeg.

Volgens Badenhorst het die donkerte intussen om hulle toegesak en moes hulle vir sowat drie ure op die Bronkhorstspruit Polisie se aankoms op die toneel wag.

“Dit was bloot ’n geval van onsekerheid of die toneel binne die Bronkhorstspruit Polisie of die Delmas Polisie se gebied val. Die polisie was egter baie behulpsaam.

“Al 13 is deur die Bronkhorstspruit Polisie weggeneem, maar volgens inligting is slegs die sewe wat deur die betrokke boer uitgeken is, toegesluit.”

Die boer is na bewering ook in die aanval van sy beursie en vuurwapen beroof.

’n K9-snuffelhond is ingespan om die boer se bakkiesleutels en beursie, en die verdagtes se vuurwapens te probeer opspoor, maar dit was onsuksesvol.

“Die verdagtes moes dit êrens weggegooi of weggesteek het,” het Snyman ook gesê.

Badenhorst het Streeknuus meegedeel dat die boer slegs lig beseer is, maar die gesin is glo erg getraumatiseer.

“Dit is te verstane, want daar was sowat ses jaar gelede ook ’n aanval op dié boer,” het Badenhorst afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button