Local newsNews

Delmas Diereskuiling brand Kersliggies vir almal om te geniet

“Elkeen kan ’n verskil maak in ’n dier se lewe hierdie Kersfees.”

Die Kersgety bring hoop, liefde en samesyn, maar vir die eienaars van die Delmas Diereskuiling het dit heeltemal ’n ander betekenis.

Die feestyd is die tyd waarin mense met vakansie gaan, sommige hul diere onversorg laat, dit is die tyd van klappers en dus baie verlore diere wat deur die strate en op plase en kleinhoewes ronddwaal.

Dit is ongelukkig ook die tyd waarin katjies en honde as Kersgeskenke gegee word, net vir die nuwigheid om later op ’n skuiling se stoep te beland.

Ma- en dogter-span Jolandie en Jorinda Verwey vra daarom dat die publiek hulle sal bystaan in dié enorme taak.

As deel van hul insamelingsveldtog het hulle die skuiling pragtig versier en sal daar daagliks vanaf Donderdag, 1 Desember tot Vrydag, 30 Desember liggies tussen 19:00 tot 22:00 aangeskakel word.

“Kom loer gerus in, bring die kinders en kom neem foto’s. Julle kan ook vir Erick, die skuiling se gelukbringer, kom ontmoet,” het Jorinda gesê.

Jorinda en Jolandie het ook gevra dat die publiek met skenkings help.

Alles is welkom, kat- en hondekos, voeding vir plaasdiere, ou komberse, hondehokke en selfs speelgoed vir die diere.

Enige kontantskenkings is ook baie welkom omdat die skuiling maandelikse uitgawes het soos salarisse, huur, water-en ligte-rekening, medisyne vir die diere en voeding het wat hulle moet vereffen.

Die span het ook ’n veldtog geloods waartydens hulle om donasies vir diere in die informele nedersettings vra.
Hulle noem dit die “Santa Food Drive for Township Animals”.

“Help ons asseblief om dié Kersfees vir die katte en honde in nood ’n bietjie beter te maak deur vir ons ’n lekkerny-pakkie op te maak.

“Daarin kan enigiets vir ’n kat of hond geplaas word, net soos jou hart goed voel.”

Die skuiling vra dat dié pakkies duidelik gemerk moet word om aan te dui of dit vir ’n kat, babakatjie, hond of babahondjie is.

Vir afleweringspunte vir die skenkings kan ’n e-pos na delmasanimalshelter@gmail.com gestuur word of alternatiewelik kan ’n Whatsapp na 060 613 1048 of 076 808 6683 gestuur word.

“Elkeen kan ’n verskil maak in ’n dier se lewe hierdie Kersfees,” het Jorinda afgesluit.

Die Delmas Diereskuiling bedank ook hul donateurs van die afgelope jaar.

“Dankie aan elkeen wat by ons ’n dier aangeneem het en sodoende vir daardie dier ’n huis en liefde gegee het. Mag elkeen van u ’n vreugdevolle feesgety geniet.”


At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button