Gesin kyk hoe huis op Modderoos Boorde afbrand
“Ja, ons het al ons besittings verloor, maar die ergste is jou verlies aan ’n huis, ’n tuiste. Jy weet nie eintlik waar jy is nie, jy weet nie waar jy hoort nie”.
’n Gesin van Modderoos Boorde het in ’n oogwink gesien hoe elke besitting van hulle tot as verbrand. Die brand het op Vrydag, 9 Desember ontstaan.
Volgens Iaan Grobler was hy omstreeks 14:30 van die werk op pad huis toe.
“Ek het ’n oproep van my verloofde, Yolandy Prinsloo, gekry om te sê dat die huis brand.”
Die vooraf-gebeure is effe onduidelik, maar skynbaar het Prinsloo, die paartjie se kinders en ook vriende van die kinders wat ten tye van die brand daar gekuier het, almal ’n middagslapie geneem.
Die sesjarige seuntjie het egter op die bed by Prinsloo gesit waar hy speletjies op die selfoon gespeel het.
Hy het glo opgekyk, die vlamme opgemerk en dadelik vir Prinsloo wakker gemaak.
Die gesin en kuiergaste is onmiddellik wakker gemaak en kon na veiligheid vlug. Die ’n grasdak het glo binne ’n kwessie van 15 minute ingetuimel.
“Ek glo dit was nie meer as 40 minute nie, toe was alles weg,” het Grobler gesê.
Prinsloo het verder gesê dat die Eloff Buurtwag gou op die toneel was.
“Hulle hulp en bystand word opreg waardeer.”
“Ons het wel gesukkel om die brandweer op Delmas in die hande te kry, ook hier het die Eloff Buurtwag deur middel van radiokontak die brandweer in die hande gekry.”
Grobler het aan Streeknuus gesê dat hulle wel alles verloor het, maar dat hy tog baie geseënd voel.
“Die gemeenskap se reaksie was ongelooflik en hulle het hul harte oopgemaak. Ons woon tans by kennisse op Sundra, maar ons het skenkings van alle oorde ontvang, meubels, klere, te veel om te noem. Ons is nou op die uitkyk vir ’n ander blyplek, maar danksy die gemeenskap se mildelike skenkings, sal ons weer kan huis opsit.”
Grobler het elkeen wat so ruimhartig geskenk het, bedank.
“In besonder vir die Eloff- en Sundra Bulldogs Buurtwagte wat so ruim ingesamel het, Eldamah Bedieninge, asook die skenking van klere vanaf NTT Toyota op Delmas. Elke persoon wat bygedra het, dankie.”
Niemand is tydens die brand beseer nie. Teen druktyd is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.
“Ja, ons het al ons besittings verloor, maar die ergste is jou verlies aan ’n huis, ’n tuiste.
“Jy weet nie eintlik waar jy is nie, jy weet nie waar jy hoort nie. Jy kan nie meer ná kerk huis toe gaan nie. Daar is nie ’n huis om na heen te gaan nie. Dié verlies is groot,” het Grobler afgesluit.







