Local newsNewsStreeknuus

Delmas Herleef en Kersfees 2022

“Soos wat die herders in die stal voor Christus gekniel het en daarna vir die wêreld gaan vertel het, so is Delmas Herleef besig om te kniel voor ons Verlosser.”

Met Kersfees om die draai en ’n spesiale tyd in mense se lewens, het die groep van vrywilligers, Delmas Herleef, ’n spesiale boodskap met Streeknuus se lesers gedeel.

Volgens dr. Martin Janse van Rensburg, leraar van die Hervormde Kerk op Delmas en voorsitter van die groep, is dit die tyd van die jaar waar almal soos die herders Bethlehem toe gaan om in die vreugde van Jesus se geboorte te deel.

“Maak nie saak hoe oud jy is nie, Kersfees bly spesiaal. Ons gaan nou nie regtig Bethlehem toe nie, maar in ons gees is ons daar en ons sien die stal en Maria en Josef en die Kind. Met Kersfees word die wonder van Christus se Menswording opnuut weer ’n werklikheid.

“Al was ons nie daar nie, weet ons dit is waar en glo dat Jesus Mens geword het ter wille van ons mense se redding. Die wonder van Kersfees lê in Jesus wat later aan die kruis sterf en die dood oorwin. Die vreugde van Kersfees lê in die genade van die Here,” het Janse van Rensburg gesê.

Volgens Janse van Rensburg het hy al baie gewonder wat sou Jesus sou doen as Hy in 2022 in Delmas se strate moes loop.

“Ek weet dat Hy ook moeite sou doen om van Delmas ’n beter plek te maak. Jesus sou beslis ’n herlewing gebring het. Deur Jesus se hele aardse lewe, het Hy moeite gedoen om van die wêreld ’n beter plek te maak. Ook het Hy dit wat verkeerd was, aangespreek, het Hy diegene wat hartseer was, getroos en hulle wat siek was, genees. Niks was vir Hom te belangrik of onbelangrik nie. Niemand was belangriker of onbelangriker nie.”

Sedert 30 September 2020 is die groep van vrywilligers, bekend as Delmas Herleef, besig om juis dit te doen.

“Om dit wat mense se vreugde steel, te verander. Of dit nou slaggate is wat herstel moet word of lang gras is wat gesny moet word, padtekens wat geverf moet word of die Delmas Begraafplaas toeganklik te maak, ons doen dit, want ons glo dat dit is wat die Here van ons verwag,” het Janse van Rensburg ook gesê.

Volgens hom is Delmas Herleef se doel om hoop en moed in Delmas te bring.

“Ons is nie die Wyse Manne uit die ooste of die herders wat na die stal toe gaan nie. Ons het nie die antwoorde op die vrae of die geld om dinge te laat gebeur nie. Wat ons wél het, is die geloof en deursettingsvermoë om op die Boodskap van Lewe te reageer.

“Soos wat die herders in die stal voor Christus gekniel het en daarna vir die wêreld gaan vertel het, so is Delmas Herleef besig om te kniel voor ons Verlosser.”

Die vrywilligers van Delmas Herleef se gebed is dat dít wat in Delmas gebeur, sal uitkring na die res van Suid-Afrika.

“Mag die Boodskap van Hoop en Vrede ook deur ons lewe. Mag ons dit wat ons glo en bely, ook deur ons sigbaar word. Mag ons draers van Hoop wees.

t“Mag die liefde van Christus deur ons vloei. Ons kniel by die krip en hou aan die kruis vas,” het Janse van Rensburg afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button