NewsStreeknuus

Kerke op Delmas span saam tydens pretweek vir die jeug

“Die feit dat kerke vanuit Delmas hierdie jeugweek gesamentlik kon aanbied, maak Delmas spesiaal.”

Met die jaar se skool agter die rug en menige ouers nog by die werk, was die groot raaisel hoe om die kinders konstruktief besig te hou, gou opgelos.

Verskeie kerke op Delmas het gesamentlik ingespan en is daar ’n jeugweek by die Hervormde Kerk op Delmas aangebied. Jeugweek het vanaf Maandag, 5 Desember tot Vrydag, 9 Desember gestrek.

Met Christelike beginsels as die basis en leiers vanuit die Bybel as die tema vir vanjaar se jeugweek, was dit tyd vir Bybellesse, maar ook hope pret, inkleur en speletjies. Nie net het die jeug oor die helde in die Bybelse tyd geleer nie, maar daar is ook geoefen om ouers, grootouers en besoekers met ’n konsert te vermaak.

Die konsert het op Donderdag, 8 Desember om 18:30 in die saal van die Hervormde Kerk plaasgevind.

Dr. Martin Janse van Rensburg, prediker van die Hervormde Kerk op Delmas, het die verrigtinge vir die aand geopen. “Die feit dat kerke op Delmas hierdie jeugweek gesamentlik kon aanbied, maak Delmas spesiaal. Ons kon as dominees, pastore en vriende saamspan om hierdie week vir die kinders spesiaal te maak,” het Janse van Rensburg gesê. “Ek wil daarom my dank teenoor die leraars van Delmas betuig. Dit was ’n die voorreg om saam met mekaar te kon kuier en so ook die Here te aanbid.”

Die onderskeie graadklassies het elkeen ’n verhaal uit die Bybel opgevoer. Om die aand se konsert af te sluit, het die leiers van die week ook hul deel, tot groot vermaak van die gehoor, op die verhoog opgevoer.

Tydens die jeugweek is die deelnemers, waarvan daar gemiddeld 80 per dag was, in kleurspanne opgedeel. Die blouspan is teen die einde van die aand as die wenners aangekondig.

Geld is ook ingesamel en die opbrengs daarvan is na afloop van die konsert aan die Almond Tree Child Care sentrum op Delmas geskenk.

“Baie dankie vir élkeen se moeite, harde werk en omgee tydens die jeugweek,” het Janse van Rensburg afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button