Jerigo Opheffingsoord vier vrolike Kersfees
“Dit gaan vir my om die mense, die inwoners van Jerigo. Dit was ’n groot voorreg om hierdie spesiale dag in samewerking met ons borge en organiseerders vir hulle te kon aanbied”.
In die gees van Kersfees, is daar gesellig gekuier, gesing, gelag, selfs soms ’n traan gepik, lekker geëet, het Kersvader kom besoek aflê en het sangers vir die vermaak van die dag by die Jerigo Opheffingsoord op Eloff gesorg.
Inwoners en gaste op Saterdag, 10 Desember op Jerigo se perseel bymekaargekom vir ’n spesiale Kersfees-bederf.
Teen die agtergrond van braaivleisvure, het sangers soos Janko, Zandré Human, Lu-Anel asook die befaamde Danie van der Westhuizen van Boerseun-formaat vir groot vermaak gesorg. Van der Westhuizen het op gepaste wyse met sy treffer, ‘Mooi loop my maat’, die gehoor gegroet.
Uit eie oord het die dertienjarige Alexander Botha met sy talent die mikrofoon geneem en vir groot vermaak gesorg met sy sang.
Die kleingoed het heerlik op die springkasteel gespeel en ouers, gaste, donateurs en inwoners het in gesellige luim gekuier.
Daar was selfs ’n danskompetisie en hier het Johan Jooste en Cathrine von Molendorf die prys losgedans.
Jerigo het op die dag ook verskeie skenkings ontvang en dit het bygedra tot die aanvul van die koskaste en versorging van Jerigo se inwoners vir Desember.
Kersfees kon natuurlik nie sonder Kersvader en Kersgeskenke gevier word nie. Kersvader het ewe spoggerig op die toneel aangekom en die kleingoed het blinkoog gewag vir hul name om uitgeroep te word. Die donateurs het dit moontlik gemaak dat elke inwoner, jonk en oud ’n spesiale geskenk ontvang het.
Organiseerder, Cathrine von Molendorf het elkeen bedank vir hul bydrae tot die sukses van die dag.
“Baie dankie aan elkeen wat hul harte vir my oopgemaak het. Dankie ook aan elkeen wat vrywillig hul tyd opgeoffer het om van die dag so ’n sukses te maak.”
Die bestuurder van Jerigo, Leon le Roux en sy vrou, Deidré het ook namens Jerigo hul dank teenoor elkeen wat die dag baie spesiaal gemaak het, uitgespreek.
“Dit gaan vir my om die mense, die inwoners van Jerigo. Dit was ’n groot voorreg om hierdie spesiale dag in samewerking met ons borge en organiseerders vir hulle te kon aanbied. Daarsonder sou dit nie moontlik gewees het nie,” het Leon laat hoor.














