Local newsNews

Pretoriusse van Standerton werk, kuier en lag saam

Hoewel hulle slegs in die oggende op kantoor is, is daar geen genade nie want die werk hou nie op nie.

’n Familie van Standerton slaag daarin om die bande heg te hou en terselfdertyd mekaar in die kantoor nie net raak te loop nie, maar ook bedryfsake te bespreek.

Die Pretoriusse het in 2001 die wageenheid van Kasselman Guarding Services van Jannie Kasselman gekoop en bedien hulle kliëntebasis.

“Dit is ’n goeie ding om familie in die besigheid te hê,” was oupa Willie se mening.

“Vir ons werk dit.”

Sy skoondogter Theresa en haar man Gerhard, sowel as Charlotte, is voltyds by die onderneming betrokke.

Hoewel hulle slegs in die oggende op kantoor is, is daar geen genade nie want die werk hou nie op nie.

Selfone is deurentyd aangeskakel vir ’n oproep om bystand en moet liewer nie vra wat hul selfoonrekeninge beloop nie.

“Dit is genoeg,” aldus oupa Willie.

Theresa probeer nog tyd inruim vir ’n ekstra inkomste as naeltegnikus so tussen die seuns se huiswerk nagaan, kosmaak en hulle buitemuurse aktiwiteite ondersteun.

Sy het op Sasolburg gematrikuleer en Gerhard by ’n troue ontmoet en hulle is in 2005 op Standerton getroud.

Hulle twee kinders Jayden en Kegan is onderskeidelik leerders by Hoërskool Standerton en Laerskool Standerton.

Die sportgene loop in die boeties se bloed.

Albei neem aan atletiek se baanitems in spiesgooi en werpskyf deel en speel krieket, maar rugby is en bly die gunstelingsport.

Jayden,’n Graad Nege leerder, draf op binnesenter uit en Kegan, wat volgende jaar hoërskool toe gaan, is ’n stut.

“Jayden is vinnig en Kegan is sterk,” was Theresa se opsomming van hul vaardighede.

Willie is ’n oud-Volksruster en het in 1964 na Standerton verhuis.

“Hy is hier van altyd af,” aldus Theresa.

Willie het skoolgegaan by Laerskool Kalie de Haas en Hoërskool Standerton. O ja, sy eggenoot Hester, werk ook by Kasselman Guarding Services.

Hy het vroeër jare lyn kon natmaak, maar kry deesdae nie tyd daarvoor nie.


LEES OOK: Victor Khanye-kring se nasionale senior sertifikaat-uitslae bekendgemaak


Hulle energie word merendeels bestee aan die suksesvolle funksionering van die eenheid.

Oupa Willie en Theresa is albei lief vir braai en die families is hondeliefhebbers. Theresa beskou die geboorte van haar kinders as ’n hoogtepunt in haar lewe.

Ook is hulle albei ondersteuners van die rugbyspan van die suide, die WP, hoewel Theresa meer genot uit skolerugby put.

Die familie se suksesresep bly sekerlik ’n geheim.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button