‘Total Shutdown’-veldtog op Delmas laat ’n pad van puin
Teen laatmiddag kon die polisie se eenheid vir openbare orde (POP) daarin slaag om die meeste ingange na die dorp te beveilig, maar onrus in Botleng en aan die R555 het steeds onverpoos voortgewoed.
Brandende bande, voertuie wat onder klippe gestook word, ingange geblokkeer en werkers wat verhoed was om na hul werksplekke te gaan, het Delmas dié week beleef.
Boodskappe op sosiale media het reeds op19 Februarie die noodgroepe van Delmas bereik.
Delmas was op 20 Febrarie van die wêreld afgesluit met byna elke ingang na die dorp geblokkeer met brande bande en oproerige opstokers wat glo deel uitgemaak het van ’n ‘total shutdown’ veldtog.
Besighede moes noodgedwonge sluit, want werkers was deur die opstokers weerhou om na hul werksplekke te gaan.
Die SAVF se Ons Eie Ouetehuis op die dorp moes dringend om hulp van die gemeenskap vra, want ook daar was werkers verbied om te gaan werk.
Die verswakte bejaardes moes versorg word, van kos voorsien word en linne en wasgoed moes gewas word.
LEES OOK: GMM’s municipal manager speaks at CPF’s public meeting
Sommige inwoners was boonop reeds sedert Sondagaand om 21:00 sonder elektrisiteit en sodoende sonder selfoonkommunikasie. Bewerings van vandalisme het die rondte gedoen.
Terwyl toegang vanaf Eloff en Sundra via Delmas nog moontlik was, het ongelukkige inwoners van die Mimosa plakkerskamp die kans waargeneem om ook hul griewe oor die voorsiening van toilette te lug deur die R555 met brandende bande versper.
Die DA raadslid by die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM), Diane Bath, het die inwoners van Mimosa toegespreek en die situasie aan die R555 was ontlont.
Teen laatmiddag kon die polisie se eenheid vir openbare orde (POP) daarin slaag om die meeste ingange na die dorp te beveilig, maar onrus in Botleng en aan die R555 het steeds onverpoos voortgewoed. Winkels is geplunder en voertuie aan die brand gesteek.
Die oggend van 21 Februarie het die opstokers die opstand voortgesit en was die meeste paaie weer eens met brandende bande geblokkeer.
LEES OOK: AfriForum will audit landfill sites in Govan Mbeki Municipality again
Alle ingange na uitbreiding vier op Delmas is toegemaak. Boodskappe van paniek en vrees van inwoners in dié woongebied het sosiale media bereik.
Na aanleiding hiervan het die Delmas Valke en die Eloff en Sundra Bulldogs buurtwagte, asook lede van privaat veiligheidsmaatskappye in die omgewing die hoofingange na Delmas weer oopgestel. Brandende bande is geblus en paaie is toeganklik gemaak.
Die R42 was egter steeds ’n brandpunt en voertuie was verhoed om Delmas vanaf die N12 binne te kom.
Teen laatmiddag het die groep na die ou rugbyklub op Delmas gemars waar hulle ’n memorandum aan die myne, in die teenwoordigheid van die Delmas Taxi Vereeniging en die uitvoerende burgemeester van VKLM, Vusi Buda, oorhandig het.
Buda het ná die vergadering in ’n mediaverklaring gesê hy is verheug om die einde van die gewelddadige opstande van die afgelope tyd in en om Delmas aan te kondig.
“Ons wil om verskoning vra vir die ongerief wat die ontwrigting veroorsaak het en bedank die onderskeie belanghebbendes vir hulle geduld oor die afgelope twee dae,” het Buda gesê.
Volgens hom, sal die verskillende myne binnekort op die griewe van die groep werkloses reageer.
Intussen het lede van die gemeenskap húl dankbaarheid uitgespreek teenoor die buurtwagte in die omgewing vir hul bystand en die beveiliging van ingange na die dorp.
“Ek wil elkeen wat bystand gelewer, ongeag hoe hoe groot of klein die rol, bedank vir hulle samewerking, toewyding en passie vir die gemeenskap van Delmas,” het Jaco Daubert namens Titen Sekuriteit gesê.
Carel Botha, voorsitter van die Valke Buurtwag het ook die rolspelers bedank.
“Dankie aan elke Valke lid wat hul tyd opgeoffer en gehelp het om ons dorp en gemeenskap te beveilig, asook aan die Eloff- en Sundra Bulldogs Buurtwagte en veiligheidsmaatskappye vir hul vinnige reaksie en uitstekende en effektiewe samewerking en die bystand verleen aan ons wetstoepassers om ’n moontlike plofbare situasie vreedsaam te ontlont.”
Botha het ook namens die Valke vir Perfect Water, die Sasol vulstasie in Sarel Cilliersstraat en Celso Dos Santos, eienaar van Pick n Pay op Delmas, bedank vir die water, koeldrank en verversings wat hulle verskaf het.
LEES OOK: Heavy rain forces residents to flee flooded shacks in eMbalenhle
Kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van die Delmas Polisie, het ook haar dank teenoor die verskillende rolspelers in die gemeenskap uitgespreek.
Teen druktyd kon sy bevestig dat die stakings, na wat verneem word, vir eers op ’n einde is.
“Ek wil ook die Valke-, Eloff- en Sundra-buurtwagte en ander rolspelers bedank. Dit wys net weer dat die polisie kan staatmaak op jul ondersteuning wanneer omstandighede dit vereis,” het Hartley laat hoor.
Streeknuus kon intussen bevestig dat verskeie sake van openbare geweld, kwaadwillige saakbeskadiging asook oortredings van die Wysigingswet op Strafregtelike Aangeleentehede (wet 18 van 2015) en peuter met noodsaaklike infrastrutuur, by die Delmas Polisie geopen is.
Dié voortslepende en gewelddadige opstande het glo gevolg uit die griewe van ongelukkige inwoners oor werkloosheid en die myne se aanstellings van werkers van buite Delmas.
Die groep het ook op 9 Februarie amok by verskeie myne in die omgewing gemaak. ’n Veiligheidswag is dié dag doodgeskiet, drie ander is beseer en infrastruktuur beskadig. (Streeknuus, 17 Februarie).














