AfriForum praat op Secunda oor regte
Jy mag nie ’n foto op sosiale media plaas van iemand wat jy in hegtenis geneem het nie.
Inwoners het oor hul regte geleer by AfriForum se praatjie wat op 18 Februarie by die Anker Kerk plaasgevind het.
AfriForum se regs- en risikobestuurder Marnus Kamfer was die spreker en het inwoners wysgemaak oor hoe hulle kan en mag optree in sekere situasies.
“Die tyd van kwaad wees vir jou bure is verby,” het Kamfer gesê.
“Die polisie het self al gesê hulle kan nie al die misdaad beveg nie. Ons het mekaar nodig.”
Hy het uitgebrei hoe ’n persoon iemand in hegtenis kan neem.
“Jy kan iemand in hegtenis as jy gesien het daardie persoon pleeg ’n misdaad. As jy iemand in hegtenis neem, raak die persoon sagkens aan en jy sê, ‘Meneer of mevrou, ek neem u in hegtenis vir …..’ en dan boei jy die persoon. Onthou hy gaan dit nie maklik maak vir jou nie, want hy wil nie in hegtenis geneem word nie.
“Dit is nie slim om alleen te wees wanneer jy iemand in hegtenis neem nie. Dit is altyd ’n goeie idee om as twee of drie of meer mense saam te werk en dan vir een van die mense wat saam met jou werk vra om ’n video te neem.”
Kamfer het ’n lys gegee van spesifieke misdrywe wanneer ’n gewone landsburger iemand in hegtenis kan neem.
Dié misdrywe sluit in moord, hoogverraad, diefstal, mansslag, diefstal en verkragting.
“As jy iemand in hegtenis geneem het, is hy jou probleem, jy moet hom dan polisiestasie toe neem.”
Kamfer het gesê inwoners mag net kriminele skiet as hulle in noodweer optree.
“Dit beteken as hulle optree om hulself of iemand anders te beskerm. Vra altyd jouself as jy wonder in watter situasie mag jy iemand skiet, of dit ’n direkte bedreiging vir my of iemand anders inhou.
“As jy binne die raamwerk van noodweer optree, kan AfriForum jou help.
“Dit is teen die wet om iemand wat weghardloop van agter te skiet, selfs in die arms of bene en al het hy gesteel of iemand vermoor.”
Kamfer het gesê dit is ook teen die wet om ’n foto van iemand te neem nadat jy die persoon in hegtenis geneem het en dit op sosiale media of WhatsAppgroepe te plaas.
Inwoners het na die tyd geleentheid gehad om vrae te vra.