Kaalvoetrugby skop met mening af op Delmas
“Kaalvoetrugby op sy beste is nou reeds bekende woorde wat aan die Laerskool Delmas rugbyweek gekoppel word”.
Nie eens die aanhoudende reën kon die afgelope naweek in die pad staan van die immergewilde junior kaalvoet-rugbyweek op Delmas nie.
Met 15 deelnemende skole het die junior week wat die o9- en o10-spanne insluit, op 24 Maart afgeskop.
“Kaalvoetrugby op sy beste is nou reeds bekende woorde wat aan die Laerskool Delmas rugbyweek gekoppel word. Wat ’n voorreg om weer elke kaalvoetspelers, afrigters, onderwysers, ouers en ondersteuners te verwelkom,” het Marelize Muller, waarnemende hoof van Laerskool Delmas, gesê.
Laerskole wat aan die junior rugbyweek deelgeneem het, was Delmas, Northmead, Selectionpark, Concordia, Baanbreker, Edleen, Oosterkruin, Delville, HM Swart, Tini Vorster, Kanonkop, Van Dyk, Marietjie van Niekerk, Westwood en Generaal Alberts.
Klipharde kaalvoetrugby was gespeel.
Die aanhoudende reën op 25 Maart het die spelers so ietwat onkant gevang, maar na ’n paar aanpassings gemaak is, het spel wel voortgegaan.
Die rugby vir verskillende ouderdomsgroepe sou op 27 Maart voortgaan en duur tot 1 April.
“Dankie aan elkeen van ons donateurs en borge, die Laerskool Delmas rugbyweekkomitee, die manspersoneel vir hul bereidwilligheid en moeite, die noodhulpspan, die skeidsregters en afrigters, die werkers vir die opstel en opruim van die terrein asook Hoërskool Delmas vir die gebruik van hul koshuis,” het Muller bygevoeg.
Vir finale uitslae in die drie kategorieë van die kaalvoetrugby-week en meer kaalvoet rugby foto’s, sien die volgende uitgawe van Streeknuus.











