Local newsNews

Maatskaplike werkers kry erkenning

Bethal-vroue woon geleentheid by.

Maatskaplike werkers van regoor Suid-Afrika het onlangs erkenning gekry vir hul harde werk as deel van Solidariteit Helpende Hand en Solidariteit se Beroepsnetwerke se inisiatief.

Dit is die tweede jaar wat Solidariteit dié funksie aanbied ter viering van internasionale Maatskaplikewerkdag wat op 21 Maart gevier word.

Altesaam 11 maatskaplike werkers is tydens die geleentheid wat op 17 Maart in Witbank (eMalahlene) plaasgevind het, as Hoopdraers van 2023 aangewys.

Die doel van dié inisiatief is om openbare erkenning te gee aan maatskaplike werkers se onblusbare passie vir hul werk ondanks moeilike omstandighede.

Volgens Christia Potgieter, hoof van die maatskaplikewerkdienste-afdeling by Solidariteit Helpende Hand, word maatskaplike werkers daagliks blootgestel aan die harde werklikheid van mishandeling, verwaarlosing en ander vorme van onreg wat aan die orde van die dag is.


Maruné van Vreden (maatskaplike werker en spelterapeut op Bethal) ontvang ’n knopie van Sumari Rootman (Solidariteit Helpende Hand Mpumalanga en KwaZulu-Natal Noord-streek maatskaplike werker).

“Hulle deins egter nie daarvoor terug nie en veg in die voorste linies vir weerlose groepe,” het Potgieter gesê.

“Dit is dus belangrik dat hulle daarvoor vereer sal word.”

Die gemeenskap kon ’n maatskaplike werker in hul omgewing vir die toekenning nomineer en ’n professionele paneel het die nominasies beoordeel.

“Om ’n maatskaplike werker te wees, verg baie meer as om ’n paar take gedurende kantoorure te verrig.

“Maatskaplike werkers speel ’n noodsaaklike rol om gesonde gemeenskappe te bou en hierdie dikwels ondankbare beroep is daarop gerig om mense in nood te ondersteun, weerloses te beveilig en te veg teen maatskaplike ongeregtighede.


LEES OOK: Man allegedly rapes young woman he befriended on Facebook


“Dapper, toegewyd, empaties, roepingsgedrewe, steunpilaar, waagmoed, deursettingsvermoë – dit is maar enkele woorde wat die maatskaplikewerkprofessie omskryf, maar dikwels gaan die impak wat hierdie edel beroep op individue, gesinne en gemeenskappe het.”

Bianca Smit van Solidariteit se Beroepsnetwerke het gesê met dié toekenning wil hulle maatskaplike werkers salueer en erkenning gee omdat hulle ’n stem is vir diegene wat nie vir hulself kan praat nie.

“Hulle bring hoop waar ellendige toestande heers. Maatskaplike werkers is die lig in iemand se donker.

“Hulle is nie net ligdraers in die gemeenskap nie, maar ware hoopdraers in die gemeenskap. Baie geluk aan die Hoopdraers vir 2023.”

Marlene Janse van Vuuren is as die Hoopdraer vir die Mpumalanga en KwaZulu-Natal Noord-streek aangewys.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button