Local newsLocal sportNewsStreeknuus

Delmas se Phoenix-rugbyspan reken met Katlehong Tigers af

Die eindtelling was 52–0 in Phoenix se guns.

Die Phoenix-rugbyspan van Delmas en die span van Katlehong Tigers het mekaar op Phoenix se tuisveld op Sundra die stryd aangesê.

Die wedstryd, wat deel vorm van die Valke-ligaseisoen, het op Saterdag, 15 April plaasgevind. Phoenix het van die begin af die oorhand geneem en die eindtelling was dan ook in die guns van Phoenix.

Met die blaas van eindfluitjie het Phoenix 52 punte op die telbord gehad terwyl die Katlehong Tigers geen punte kon aanteken nie.

Phoenix het ’n totaal van agt drieë gedruk waarvan Kryno Roux, Derek Beeselaar, Charl Steyn, Sebastiaan Gort, Francois Snyman en Lethabo Sathekge elk ’n drie gedruk het en Jaco Els twee drieë agter die doellyn gedruk het.

Die skopskoen van Francois Blignaut het vir vier verdoelings gesorg en Francois Snyman het twee suksesse behaal.

Phoenix het aangekondig dat die rugbyveld, regoor die laerskool in Rennielaan op Sundra, voortaan hul nuwe tuisveld sal wees.

“Dit was ’n trotse oomblik om vir die eerste keer in etlike jare op ’n veld, wat ons ons eie kan noem, te kon uitdraf,” het afrigter, Jandré Senekal gesê.

Senekal het voorts gesê dit was ’n baie goeie en opbouende wedstryd en die span het goeie kommunikasie gehad. Hy is vol vertroue vir die res van die seisoen.

Die volgende wedstryd in die Valke-liga waaraan Phoenix deelneem, vind teen die span van Heidelberg op Saterdag, 29 April op Heidelberg plaas.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button