Local newsNews

Avonturier bereik kruin van Kilmanjaro

Johann van Coller se droom is bewaarheid.

Die avonturier en voormalige Secunda-inwoner, Johann van Coller, se droom om die berg Kilimanjaro se kruin te bereik, is op 7 April bewaarheid.

Van Coller het op 31 Januarie 2021 reeds vanaf Kaap Algulhas, die mees suidelikste punt van Suid-Afrika, begin stap om Kilimanjaro te bereik.

Hy het dié berg in Tanzanië reeds in Maart bereik, maar het toe nie genoeg geld gehad om tot bo te klim nie. Hy moes inderhaas R51 500 insamel.

Te danke aan barmhartige Samaritane wat geld gegee het en los werkies wat Van Coller gedoen het, kon hy vroeg in April die bedrag bymekaar kry.

“Ek sou dit nie sonder die hulp van mense kon doen nie. Dit was die grootste oomblik van my lewe,” het Van Coller gesê.


Johann van Coller is verheug dat hy sy droom kon bewaarheid deur die kruin van die Kilimanjaro te bereik.

“Dit bewys dat daar steeds hoop in mense is. Dankie vir almal wat gehelp het en ’n bydrae gelewer het, ek waardeer dit baie.”

Volgens hom kon niks hom voorberei vir dit wat hy bo-op die berg beleef het nie.

“’n Mens kan probeer om jouself voor te stel hoe dit gaan wees bo-op die berg, wat jy gaan ruik, sien of voel in daardie oomblik, maar ’n mens kan nie.

“Ek weet nou wat die woord vér regtig beteken en ook wat die woord tyd beteken. Die lewe het vir my meer diepte en meer geur as ooit vantevore.”

Van Coller is nou terug in Suid-Afrika waar hy eers vir ’n rukkie by vriende en familie gaan kuier en kyk waarheen sy lewenspad hom volgende neem.


https://www.citizen.co.za/ridge-times/114164/avontuurier-august-zerwick-wil-everest-weer-klim-volgende-jaar/



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button