Delmas VLU-tak leer aan die hand van plaaslike kunstenaar
Plaaslike kunstenaar, Reinette Vermaak het die lede met tegnieke van waterverf met pen-en-ink skilderwerk touwys gemaak.
Die Vroue Landbou-unie se tak op Delmas het oudergewoonte weer ’n propvol agenda tydens hul maandvergadering gehad.
Die vergadering en werksklas het op 18 April in die saal van die Hervormde Kerk op Delmas plaasgevind.
Tydens die vergadering is ’n nuwe lid, Irma du Plessis, woonagtig aan die Oosrand, verwelkom en die kunste het ook weer hooggety gevier. Du Plessis is bedrewe agter die naaldwerkmasjien, brei en hekel graag en het ook borduurklasse aangebied.

Du Plessis is ook lid van die Brakpan VLU-tak, maar beplan om voortaan gereeld op Delmas te kuier. Die Delmas VLU- tak voorsitter, Marié Terblanche het vir Du Plessis baie welkom geheet.
“Ek glo dat Ina ons lede positief gaan inspireer om aan hul artikels te werk,” het Terblanche gesê.
Met die verwelkoming agter die rug, het Terblanche die formele vergadering prosedures deurgedraf.
Daarna was dit tyd vir die bekende en immergewilde plaaslike kunstenaar, Reinette Vermaak, om die lede rondom die unieke tegnieke van waterverf met pen-en-ink skilderwerk touwys te maak.
“As befaamde oud-onderwyseres het Reinette ons deur die spesiale tegnieke wat verskillende teksture oplewer, gelei,” het Magriet Swart, skakelbeampte vir die Delmas VLU-tak, gesê.
Die demonstrasie het ingesluit nat en droë tegnieke, die gebruik van huishoudelike items soos sago, growwe sout en rys en selfs ’n strooitjie om sekere effekte te bewerkstellig.
Vermaak het ook die lede vermaan om versigtig te wees om nie net goedmoeds foto’s en prente vanaf die internet te gebruik nie.

“Daar is dikwels kopiereg op van hierdie foto’s en prente en dit word gevolglik as ’n misdaad beskou en kan daarom ernstige gevolge inhou,” het Vermaak gesê.
“So, tel jou kwas op, raak rustig en geniet ’n ontspannende uur van sielskos terwyl jy al jou spanning laat uitvloei terwyl jy verf.”
Enige vrou wat daarin sou belangstel om tydens ’n vergadering te kom saam kuier is welkom om die voorsitter Marie Terblanche by 083 968 2203 te skakel.



