Günter Paul Jäger kuier weer op Cullinan
Günter Paul Jäger het weer ’n geleentheid om met sy ou span te oefen.
Günter Paul Jäger (22), ’n internasionale rubyspeler, oefen tans by die Cullinan Rugbyklub om fiks te bly voordat hy weer in September na Duitsland vertrek.
Jäger het op ’n plaas in Boekenhoutskloof in die Cullinan-omgewing grootgeword en het op Cullinan skoolgegaan. Dié jong man het nog altyd ’n liefde vir rugby en vir sy tuisdorp gehad.
Hy het as klein seuntjie aan Bulletjies rugby deelgeneem, maar volgens hom het hy eers op 15-jarige ouderdom ernstig oor die sport geraak.
Hy het nog in 2015 vir die destydse Hoërskool Cullinan in die Beeld-eindstryd uitgedraf.
Sy span was naaswenners in die Beeldtrofee-reeks en van daar af het hy gedroom om oorsee rugby te gaan speel en ’n naam vir homself in rugbykringe te maak.

Jäger het in 2017 van skole verwissel omdat dit vir sy gesin makliker was dat hy by Hoërskool Montana in Pretoria inskakel.
“Ek het hier ook klubrugby gespeel,” het hy vertel.
Jäger vir sy skool se eerste span uitgedraf tot hy in 2018 gematrikuleer het. ’n Afrigter by Montana wat ook by die Internasionale Rugby Instituut (IRI) afgerig het, het Jäger daaraan bekendgestel.
Na matriek het Jäger besluit om die IRI te kontak want hy wou graag profesioneel rugby speel. Hy was toe aanvaar om oorsee rugby te gaan speel en na ’n hele jaar van oefen soos ’n profesionele speler het sy vaardighede ontwikkel en verbeter.
“Ek het vir die Naka o20-span klubrugby gespeel en die IRI het deure ooopgemaak sodat ek vir die Limpopo Blou Bulle in die o19 Curriebeker-toernooi gespeel het.”
LEES OOK: Phoenix dring deur na die Valkeliga se halfeindstryd
Ná dié seisoen het die IRI vir Jäger ’n geleentheid gekry om 2019 in Duitsland vir die klub Hannover 78 te speel. Dié is een van die oudste klubs in Duitsland. Die klub was so beïndruk met sy spel deur die eerste seisoen dat hy gevra is om aan te bly.
Jäger speel sedertdien vir Hannover 78 en studeer ook daar as elektriese ingieneur.
“Dit was ’n groot geleentheid vir my en die klub is regtig goed vir my,” het hy vertel.
Dié klub se laaste wedstryd van die Erste Bundesliga 2022/23-seisoen is op 17 Junie voltrek en daarom het Jäger vir eers na Suid-Afrika en Cullinan teruggekeer.
“Ek het besluit om my plaaslike rugbyklub te ondersteun en om ook fiks en sterk te bly totdat ek weer terugkeer Duitsland toe,” het hy verduidelik.
Volgens hom is die volgende seisoen wat in September begin van groot belang. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat Cullinan my bied om saam met hulle te kan oefen en speel,” het Jäger afgesluit.



