Sasol Grip & Rip Rugbyklub met een punt as Mpumalanga-kampioene onttroon
Span fokus nou op komende Gold Cup wat op 9 September afskop.
Een punt het al die verskil gemaak. ’n Skepdoel sekondes voor die eindfluitjie het Barberton die een punt gegee wat nodig was om die wenbeker van die Mpumalanga Premierliga by Secunda af te vat.
Barberton het Saterdag die eerste span van Sasol Grip & Rip Rugbyklub met 19–18 geklop. Dié eindstryd is op Barberton beslis nadat albei spanne ’n suksesvolle seisoen beleef het.
Sasol het dié seisoen veral oor hul steenstanders geloop. Die Barbertonners het egter van die staanspoor af gewys dat hulle goed vir die eindstryd voorberei het.
Hulle het die veld volgepak en nie gewaag om die Sasol-masjien ’n opening te gee om behoorlik in rat te kom nie.

’n Groot gedeelte van die wedstryd het in Sasol se kwartgebied plaasgevind en het die spelers hul doellyn hard verdedig.
Sasol se spoedvraat, Anwar Fillis, was ook nie Saterdag in sy nommer 13-trui nie. Hy moes sy spanmaats van die kantlyn af aanmoedig omdat sy kakebeen gekraak is tydens die vorige Saterdag se halfeindstryd teen Witrivier.
Sasol se Francois Myburg, heelagter, het met ’n strafdoel die eerste punte op die telbord geplaas. ’n Tweede strafdoel het Sasol 6–0 laat voorloop.
Barberton se Phulane Sowane het ’n opening gesien en met ‘n skepdoel geslaag wat die punte na 6–3 opgestoot het.

Die spelers in groen het met krag en mag saamgespan om ’n drie, gedruk deur Jaice Terblanche, vir Barberton te verseker en die telbordjie te verhang. Barberton het teen halftyd 8–6 voorgeloop.
Sasol se eerste drie het gekom toe Devan van Eeden in die duskantste hoekie oorgeduik het om die eerste punte in die tweede helfde aan te teken. Die drie is nie verdoel nie.
’n Fout in Sasol se doelgebied het hulle duur te staan gekom. Barberton is met ’n strafdoel beloon en Cassie Jansen het die bal deur die pale gestuur om die telling gelykop 11 elk te maak.
Sasol se Brandon Potgieter het ’n oomblik toe die Barbertonners nie opgelet het nie ten volle benut en oopgelê na die doellyn om ’n drie onder die pale te plant.
LEES OOK: The Springboks on track for RWC with morale-boosting win in BA
Dié drie is wel verdoel wat die puntestand na 18–11 in Sasol se guns verander het. Barberton het hierop geantwoord met ’n drie van hul eie.
Neil de Wit het ’n drie in die hoekie gaan druk. Die drie is nie verdoel nie. Met die telling op 18–16 in Sasol se guns het die laaste minute teen ’n slakkepas verloop terwyl daar op die eindfluitjie gewag is.
Barberton se Wilmaure Louw het egter in die laaste snikke van die wedstryd met ’n onverwagse doelskop geslaag en die oorwinning vir Barberton beklink.
Sasol se tweedes het met 16-3 teen Middelburg verloor.

Barberton se voorsitter, Jaice Terblanche, wat as slot op die veld gedraf het, het gesê dit was ’n geskiedkundige gebeurtenis vir Barberton se rugbyklub.
“Ons het al voorheen die Burgemeesterliga gewen, maar hierdie is vir ons ’n eerste keer om die Premierliga te wen. Die naaste wat ons voorheen gekom het, was verlede jaar toe ons teen Secunda in die halfeindstryd verloor het.
“Ons het uit daardie wedstryd geleer en aan ons leemtes gaan werk,” het Terblanche verduidelik.
Sasol se afrigter, Lodewyk Uys het gesê die span was nie klinies genoeg by die losgemaal nie.
“Barberton het ook ons bal baie stadig gemaak,” het hy verduidelik.
“Ons wens Barberton geluk met hul wen. Ons is bly saam met julle,” het Uys bygevoeg.
Volgens Uys fokus die span nou op die komende Gold Cup. Sasol het al voorheen in dié toernooi meegeding.
Hierdie nasionale klubrugbytoernooi waarin slegs die room van elke rugby-unie deelneem, skop op 9 September af. Dit word op ’n uitklop-formaat gespeel.
Daar is dalk ’n kans dat Sasol dan weer met Barberton te doen gaan kry. Barberton is as wildekaart vir die Gold Cup genomineer.
“Die unie het ons genomineer. Uit die landwye ses nominasies, gaan slegs twee gekies word. Ons wag om te hoor of ons nominasie geslaagd was,” het Terblanche verduidelik.






