Kinross VLU-lede leer van selfverdediging
Belangstellendes is welkom om volgende vergadering op 14 September by te woon.
Vroue van die Kinross VLU-tak het op 10 Augustus by die Evanderklub vergader om meer oor veiligheid en veral selfverdediging te leer.
Oud-polisiekaptein en kapelaan, Johan Smit en sy vrou, Joy, wat ook vir jare ’n kaptein in die polisie was, het die vroue touwys gemaak.
Hy het selfverdigingstegnieke op verskeie van die vroue toegepas en die vroue moes dit ook op mekaar toepas sodat hulle sal weet wat om te doen as hulle aangeval word.
“Trek sy ore, spuit hom in die oog met pepersproei of spuitgoed, as jy ’n hoed of serp of iets het, gebruik dit om oor jou aanvaller se oë te gooi sodat jy dan verder kan verdedig of weghardloop,” het Smit gesê.
Hy het boekies wat hy self saamgestel het uitgedeel. Dit gaan oor selfverdedigingstegnieke, emosionele, fisiese en seksuele mishandeling van kinders en seksuele misdrywe en verwante aangeleenthede wette.
Smit het aanbeveel dat die vroue dié boekies gaan deurlees by die huis en die selfverdedigingstegnieke oefen op hul familielede.
“Daar is baie plekke waar jy iemand kan slaan om hulle seer te maak, of om hulle beweegbaarheid te verminder. As jy hard op sy voet trap, daar is baie klein beentjies wat kan seerkry of breek.

“Skree terwyl jy slaan, jy sal dan meer krag in jou houe sit. Jy moet jou aanvallers so vinnig as moontlik buite aksie sit sodat jy kan wegkom en hulp kan kry.”
Smit het ook gepraat oor huisinbrake en gesê mense het gewoontes en kriminele leer dit binne ’n paar dae wanner hulle huise dophou voordat hulle inbreek.
“Verander jou roetine of gewoontes soms bietjie. Ry ’n ander roete werk toe, sit ander ligte in die huis eerste aan in die oggende as jy opstaan of slaap in verskillende kamers elke aand.”
LEES OOK: WATCH: Pick n Pay in Secunda Mall celebrates re-launch
Hy het die vroue gemaan om hul huise te beveilig en gesê goeie beligting, honde en beweging skrik gewoonlik die kriminele af.
Die Kinross VLU-tak se volgende vergadering is op 14 September om 09:30 in die Evanderklub. Belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.
Vir meer inligting, skakel Thea Potgieter by 082 823 2728.



