SAVF Pleeghuis op Secunda vier hul eerste verjaarsdag
Belangstellendes kan by pleeghuis betrokke raak as vrywillgers.
Vrywilligers en werknemers van die SAVF het op 24 Oktober dié organisasie se pleeghuis se eerste bestaansjaar gevier.
Die kinders van dié huis het kolwyntjies en iets te drinke saam met die vrywilligers geniet en Mari Louw, streekbestuurder van die SAVF, het gesê dié geleentheid is vir haar baie spesiaal.
Sy het almal bedank wat betrokke was en die SAVF se hande geneem het om dié droom te bewaarheid.
“Ek dink nie ons sou dit in enige ander gemeenskap as Secunda kon laat werk nie,” het Louw gesê.
“Aan die Here kom al die eer toe, ek wil vir Hom ook dankie sê. Die Here weet reeds wat ons nodig het nog voordat ons Hom vra.
“Ons grootste hartswens is dat die Here vir elke kind wat hier uitstap ’n werklikheid sal wees.”
Die SAVF se Secunda-tak het onlangs by die kongres ’n toekenning ontvang vir die pleeghuis.
Hulle het teen 165 ander fasiliteite, wat almal deel is van die SAVF en waarvan ses plekke van veiligheid vir kinders is, meegeding.
Een van die kinders in die pleeghuis het al die vrywilligers bedank vir hul hulp, tyd en ondersteuning.



