Local newsNewsSchools

Mariane groet Marietjieskool op Secunda na 34 jaar

Skoolhoof wil nou meer tyd in Dubai saam met haar kleindogter bestee.

Desember is ’n bittersoet maand vir Mariane Uckermann, hoof van Marietjieskool vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes.

Sy groet dié skool na 34 jaar en sluit hierdie seisoen van haar lewe af.

Uckermann se eerste kleinkind, Emmari, is in Maart in Dubai gebore, waar haar oudste seun, Racois en sy vrou, Eliz-Mari woon.

“Ek wil vir so ‘n jaar Dubai toe gaan en my kleinkind daar leer ken en besluit wat my toekoms inhou,” het Uckermann gesê.

Sy het ook vir 16 jaar na haar suster se gestremde kind, Shadé Fourie (18), omgesien.

“Sy is soos my eie kind en ek is baie lief vir haar, maar ek dink dit is nou tyd dat sy en haar ma herenig word.”

Uckermann se suster woon ook in Dubai en Uckermann wil haar help om te bou aan ’n beter verhouding met Shadé en ook om ’n geskikte persoon op te lei om na Shadé om te sien bedags wanneer haar ma by die werk is.

Uckermann sien uit daarna om dinge te doen waarvoor sy nie baie tyd kry nie soos om te lees en tennis of gholf te speel saam met haar suster.

Uckermann wou nog altyd ’n verskil maak in kinders met spesiale behoeftes, se lewens en dit is presies wat sy die afgelope 34 jaar by Marietjieskool gedoen het.

Sy, haar personeel, ouers en kinders het lang trane gehuil by Uckermann se afskeidsfunksie. Uckermann wou eers ’n maatskaplike werker word, maar het eindelik besluit om in die onderwys te gaan.

Sy het eers haar proeftydperk by die Pretoria Skool vir Serebrale Gestremdheid gedoen en toe besef haar passie is vir kinders met spesiale behoeftes.

Sy en haar man, Francois, het destyds na Secunda verhuis, waar Uckermann eers vir ’n jaar by ’n hoofstroomskool skoolgehou het en toe by Marietjieskool begin het.

Sy het die gemeenskap, haar personeel en ondernemings vir hul ondersteuning deur die jare bedank en gesê sonder hulle sou sy dit nie kon doen nie en die skool sou nie kon funksioneer nie.

“Ek sal altyd dankbaar wees vir die ondersteuning,” het Uckermann gesê.

“Iemand wat hulle tyd gee en byvoorbeeld by ons mark toesig hou en iemand wat baie geld gee, is ewe belangrik.”

Sy het ook die skool se beheerliggaam, wat die leerders se belange op die hart dra, vir hul ondersteuning bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button