Local newsNews

Ouetehuis op Standerton bied nou verskeidenheid verblyfopsies

“’n Ondersoek word tans gedoen om die oord na ’n deeltitelkompleks te omskep. “Ons beweeg by gebrek aan ’n gepaste Afrikaanse woord, na ’n ‘village’ toe.”

Kosmos Aftree-oord op Standerton het ’n nuwe baadjie aangetrek. Volgens die bestuurder, Sanpat Coetzee, poog hulle om by markbehoeftes aan te pas en het daarom ’n verskeidenheid verblyfopsies vir bejaardes te ontwerp.

In die verlede is hoofsaaklik op lewensregkopers van meenthuise en eenman woonstelle gefokus. Die annekskamers met badkamers het ook deel hiervan uitgemaak.

“Huurgeleenthede by die oord is nou beskikbaar en sluit onder meer kamers met badkamers in,” het Coetzee gesê.

“Die sorgsentrum is ook uitgebrei en ’n bystandsorgeenheid ontwikkel.”

Die ouetehuis ontvang deurlopend navrae van oraloor, wat daarop dui dat daar ’n groot behoefte aan behuising, en veral huureenhede is.

“Altesaam 78% van die navrae oor ’n 14 maande was vir mense bo 80 jaar,” sy ook gesê.

Die wêreldwye tendens om so lank as moontlik in jou eie woning te bly, het ook inslag op die dorp en omgewing gevind.

“Baie min mense in dié ouderdomsgroep wil kapitaal belê vir behuising en die mark het dus begin swaai na huur toe.”

Volgens Coetzee, speel die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n rol, maar dit is Covid se nadraai wat ’n wesenlike invloed op mense gehad het.

Familielede van bejaardes is in ’n verarmende omgewing met werksverliese en kan nie meer so mildelik tot die versorging van bejaardes bydra nie. Verhuring word in verskillende kategorieë opgedeel.

Coetzee het aangedui dat die direksie besluit het wanneer ’n lewensregeenheid vakant raak, en nie spoedig gekoop word nie, om dit vir ’n tydperk vir ’n maksimum van 12 maande vir verhuring beskikbaar te stel.

“As ’n gebaar van welwillendheid sal ’n gedeelte van die huurinkomste aan die huidige lewensreghouer oorbetaal word.”

Coetzee het ook gesê die deure staan wyd oop vir die publiek en dat streng keuringsvoorwaardes sal geld.

’n Pluspunt of twee is die veilige omgewing, etes wat beskikbaar is en wasgoed wat gedoen kan word.

“’n Ondersoek word tans gedoen om die oord na ’n deeltitelkompleks te omskep. Ons beweeg by gebrek aan ’n gepaste Afrikaanse woord, na ’n ‘village’ toe.”

Die gangkamers sal geleidelik na ’n kamer met ’n en-suite badkamer omskep word.

“Privaatheid op ’n gevorderde ouderdom is baie belangrik.”

Daar is verskillende tipes behuising teen verskillende tariewe beskikbaar. Een voorbeeld is eenhede wat maandeliks 20 etes insluit.

Die voordele van laasgenoemde is die bevordering van sosiale samesyn, met inwoners wat saam in die saal eet en dat bejaardes in ’n sekere sin daagliks verplig word om een gebalanseerde maaltyd te eet. Die kliniek by die ouethuis is op 6 Februarie heropen en bied basiese dienste kosteloos aan inwoners.

“Volgens wetgewing moet alle inwoners gereeld besoek word om hulle welstand te bepaal. Ons poog nou om dit drie-maandeliks te doen.”

Inwoners wat inbel na die kliniek, kan ook dienste teen ’n koste ontvang.

Benewens die aktiwiteite by die ouetehuis wat kerk, bingo, Bybelstudie, kunsklasse en oefening insluit, sal daar voortaan ook ’n aangepaste oefensessie vir die sorgsentruminwoners aangebied word.

“Ons neem die inwoners op 14 Februarie na Grootdraaidam vir ’n piekniek. Daar bestaan ’n groot behoefte aan uitstappies en almal is genooi. Ten minste een personeellid van die sorgsentrum sal ons vergesel.”

Kosmos Aftree-oord brei ook dienste na die dorp se inwoners uit. In gevalle waar mense vir ’n kort- of langtermyn na ’n bejaarde omsien, kan van die tehuis se aflossorg gebruik gemaak word.

“Wanneer die tuisversorger vir ’n naweek of langer tydperk gaan kuier of met vakansie gaan, kan met die oord gereël word om vir die betrokke bejaarde in dié tyd te sorg. Dit is volle sorgsentrumsorg en sluit alle etes in en gee ook vir die tuisversorger ’n blaaskans.”

Volgens die bestuurder, is een voordeel van aflossorg dat aanpassing later by die oord, indien die individu permanent na die tehuis kom, makliker sal wees.

In die toekoms word dagsorg vir die gemeenskap beplan. Soortgelyk aan aflossorg, bied dit die geleentheid vir tuisversorgers en werkende mense om ’n bejaarde vir die dag na die oord te bring.

“Ons hoop om vanjaar teen April dié diens van stapel te stuur. n Bed, stoel, aktiwiteit, koffie of tee, ’n klein ontbyt en middagete sal bedien word.”

Tuissorg op ’n daaglikse basis is ook moontlik. Tree met Kosmos Aftree-oord in verbinding as ’n inwoner tans iemand versorg en hulp benodig.

“Sowel die dag- as aflossorg is nog in hul kinderskoene. Dit moet nog in die praktyk getoets word.”

Raad oor volwasse doeke, rolstoele en looprame is beskikbaar en rolstoele en mobiliteitsapparaat word ook verhuur.

“Sedert ons dié benadering het, het die inwoningsyfer drasties toegeneem en ons het inwoners van so ver as

Johannesburg, Vereeniging en Bronkhorstspruit gekry,” het Coetzee mee afgesluit.

“Kosmos Aftree-oord streef daarna om aan die behoeftes van die gemeenskap te voldoen.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button