Bronkhorstspruit se Rinkals pas goed aan in Japan
Dié plaasseun spel op kontrak klubrugby vir die Kobe Steelers.
Veelsydig – dit is die een woord waarmee Rinkals Smith opgesom kan word.
Dié plaasseun van Bronkhorstspruit het die afgelope jaar aanpassings in taal, kultuur en selfs sy rugbyposissie baasgeraak, Smith het op 4 Maart, ná ’n vakansie by sy ouers, weer na Japan teruggekeer waar hy nou as agsteman uitdraf. Hy het in hierdie tyd sy 20ste verjaardag gevier.
Rugby-agent Henco Venter het vir Smith op die nasionale Cravenweek raakgesien. Smith het toe as matriekseun by HTS Middel as vleuel vir die Pumas gespeel. Hy het ook al as senter uitgedraf. Venter het vir Smith ’n kontrak by Kobe Steelers, een van Japan se grootste klubs, losgeslaan.
Dié kontrak verseker dat die jong man sy BSc graad in sport wetenskappe en bestuur aan die Tokai Universiteit kan voltooi en daarna vir vier jaar by die Kobe Steelers professioneel rugby speel.
Sy klasse by die universiteit is 60% in Japanees en 40% in Engels. Hy het dus aan die begin ’n tolk benodig, maar is deesdae heel behendig met dié vreemde taal.

Smith het by die Kobe Steelers se juniors ingeskakel maar binne drie maande ná hy in Japan aangeland het, is hy na die senior span opgetrek.
Verskeie Springbokke is in hul afseisoen ook by dié klub betrokke. Sy dae is vol met studies en oefensessies van sowat agt ure per dag.
Smith is ’n gebore atleet. Buiten vir puik rugby op skool, het hy ook in 200m, 400m, diskus en gewigstoot op nasionale vlak deelgeneem. Hy het ’n stewige skop gehad, maar nadat sy regterheup op die atletiekveld beseer was, spaar hy sy skopvoet.
Rinkals het op ’n familieplaas, HC Smith Boerdery, grootgeword en was ’n leerder aan Laerskool Witpoort.
Rugby vloei deur sy are. Sy pa en oupa was albei goeie spelers op hul dag.
ALSO READ: Mini League netball players battle it out at Secunda Action Sports arena
Oupa Hendrik (senior), meer bekend as Oom Boer, was destyds die hoofafrigter van Bronkhorstspruit Rugbyklub.
Smith se pa, Boer, het vir Bronkhorstspruit Rugbyklub rugby gespeel, asook vir die Blou Bulle Streek en Plattelandse spanne.
Smith se ouers vertel graag dat hul seun op negejarige ouderdom vertel het dat hy eendag groot, TV-rugby wil speel.
“My seun, jy hoef net rugby te speel en te boer,” was die pa se antwoord.
Rugby is vir Smith die sport waarin hy sy Godgegewe talente kan uitleef.
ALSO READ: Nearly 70 participants arrive for parkrun at Standerton River Park



