Malita Aftreeoord op Delmas maak self planne om waterkrisis te oorkom
“Dit is baie lekker om nou nege uur saans te gaan stort. Vir meer as ’n jaar het ons reeds van vroegaand af nie meer water gehad nie.”
Die inwoners van Malita Aftreeoord het met vindingryke idees vorendag gekom om grootliks van die knaende watertekorte in die Victor Khanye Munisipaliteit weg te breek.
Hulle het op 21 Oktober gaan stap om geld vir hul waterprojek in te samel.
Dié brawe bejaardes het sowat 7.5km afgelê en elke kilometer was teen R100 geborg om die wiele aan die rol te sit om hul eie watertenks, pype en pompe op te rig.
Streeknuus het op 6 Maart by Malita gaan inloer. Gelukkige inwoners het rondom die drie 30 000l tenks bymekaargekom en vir die kamera geglimlag.

Malita-inwoner, Susan Abrie het Streeknuus meegedeel dat die drie tenks deur ’n persoon, wat verkies om anoniem te bly, geskenk is.
Sy het die borge namens die inwoners bedank. Ettienne Cilliers het die installasie gedoen. Die inwoners bedank ook die verskeie kerke op Delmas wat bygedra het.
“Daar is egter baie ander mense ook wat op die een of ander manier ’n bydrae gemaak het en ons bedank elkeen van hulle opreg.”
Abrie het ook die inwoners wat gebak en gebrou het om geld in te samel, bedank.

Volgens Abrie is daar egter nog ’n paar van die huisies by Malita Aftreeoord wat nie van die tenkwater gebruik kan maak nie.
“Daar was twee aansluitingspunte op die perseel wat ons nie kon opspoor nie, maar ons was gistermiddag gelukkig om een te vind. Ons soek nou vir die laaste een,” het Abrie bygevoeg.
Die planne vir die waterpypleidings by die munisipaiteit het glo verlore geraak en inwoners moes daarom self inspring om na die punte te soek sodat die res van die huisies ook kan baatvind by die nuwe tenks.
“Dit is lekker om nou nege uur saans te gaan stort. Vir meer as ’n jaar het ons reeds van vroegaand af nie meer water gehad nie,” het die nuut verkose opsigter, Chris Botes, vertel.
Volgens van die inwoners is dit nou net beurtkrag wat hulle van die luuksheid van voltydse water uit hul krane weerhou.



