Local newsNewsStreeknuus

Delmas VLU deel in Carpe Diem Streekkonferensie

“Ons tak is ook besonder trots op ons voorsitter, Marié Terblanche, wat as voorsitter van die jaar bekroon is. Sy is ook herverkeis as die vise-streeksvoorsitter.”

Die Vroue Landbou Unie (VLU) het op 17 Februarie die 23ste vergadering van die Mpumalanga Carpe Diem-streek by die NG Gemeente se Trappies-kerk op Witbank gehou.

Op die verhoog was die uitvoerende bestuur verteenwoordig deur Belinda Duvenhage, streektesourier, Alna Kapp, president van die VLU Mpumalanga, Marcelle van Vuuren, Carpe Diem-streekvoorsitter, Hendriët Prinsloo, streekbeoordelaar-sameroeper, Anette Steyn, streeksekretaresse en die streekskakelbeampte Lida Posthumus.

Die VLU se nasionale president,Cindy Coetzee het die verrigtinge geopen. Tydens haar groeteboodskap het sy lede wat lidmaatskap ontvang het, geluk gewens.

“Onthou dat VLU-vroue enersdenkende hartsmense mense met dieselfde belangstellings is,” het Coetzee gesê.

Coetzee het ook vanjaar se konferensie-tema, ‘Harte van Goud’, mooi geïllustreer met haar woorde: “Ongeag wat jy van jouself dink, iewers het jy iemand laat glimlag, drink iemand uit ’n koffiebeker wat jy vir haar gegee het of hou hulle net so klein bietjie meer van hulself omdat jy ’n kompliment gegee het”.

Coetzee het ook vertel hoe haar eerste kompetisie-artikel ‘weggeraak’ het, net om later uit te vind dat dit eintlik teruggehou was vir deelname op streekvlak. Coetzee het verder lede aangemoedig om deel te neem en aan te hou probeer.

Sy het vir die Carpe Diem se voorsitter, Marcelle van Vuuren geluk gewens met Carpe Diem se tema vir 2024, naamlik “Gewone mense maak ’n verskil”.


Marié Terblanche is aangewys as die Voorsitter van die Jaar en is ook herverkies as adjunk-streekvoorsitter.

Dié tema is uitgebrei met ‘Elfies vir almal’, gebaseer op ’n kersboom in ’n winkelsentrum in Witbank. Elfies wat hierdie Kersboom vol gehang het, het groot verskil aan menige kinderjies se lewens gemaak.

“Die projek sal vanjaar verder uitgebrei word,” het Magriet Swart, VLU Delmas-tak se skakelbeampte laat hoor.

Delmas se vroue het op die verhoog geskitter en trofees ingepalm by die konferensie se prysuitdeling. Ansie van Zyl het die meeste punte vir masjienwerk en ook masjienborduurwerk behaal. Haar breiwerk het vir haar die meese punte besorg. Sy het ook ’n derde plek op streek en provinsiale vlak gehaal, met Marié Terblanche in vyfde plek.


Magriet Swart met haar toekenning vir skakelwerk.

Terblanche het ook die meeste punte vir handvlyt en fotografie ontvang. Margaret Bezuidenhout het weggestap met die trofee vir gebak en lekkers. Die Delmas-tak het algeheel derde in die streek geëindig.

“Ons tak is ook besonder trots op ons voorsitter, Marié Terblanche, wat as Voorsitter van die Jaar bekroon is. Sy is ook herverkeis as die adjunk-streekvoorsitter,” het Swart ook gesê.

Magriet Swart het egter ook geskitter met ’n toekenning vir haar uitnemende skakelwerk.

“Hierdie toekenning dra ek graag aan Thia Botha van Streeknuus op.

“Dankie Thia vir die wyse waarop jy my werk redigeer en die gereelde plasings in Streeknuus,” het Swart afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button