Local newsNews

Biokinetikus spreek Bethal VLU toe

Belangstellendes is welkom om volgende vergadering op 16 April by te woon.

Plaaslike biokinetikus, Dirkie Schoeman, het vroue van die Bethal VLU-tak op 19 Maart toegespreek by dié tak se maandelikse vergadering.

Sy het gesê mense verwar dikwels fisioterapeute en biokinetikuste.

“’n Fisioterapeut is die eerste persoon wat jy raadpleeg as jy seergekry het of ’n probleem het,” het Schoeman gesê.

’’n Biokinetikus doen finale fase rehabilitasie of algemene welstand en staan bekend as oefendeskundiges. Mense doen dan oefeninge by ’n biokinetikus vir gesondheid of vir die lekker.

“Mense met harttoestande en diabete baat ook baie by oefening. Dit bring groot verligting vir sportbeserings.”

Volgens Schoeman het mense ’n groot wanopvatting van oefening.

“As jy vir mense sê hulle moet ’n bietjie aan die gang kom, dan dink hulle hulle moet gaan ysters pomp vir twee uur ’n dag of ’n mens moet wegspring en 10km gaan hardloop. Dit klink vir niemand aanloklik nie. Mense dink ook biokinetici is persoonlike afrigters.”

Schoeman meen haar grootste roeping is om mense te leer dat oefening ook lekker kan wees.

Sy het gesê oefening is een van die min dinge wat werklik werk vir angs en depressie; dit is die goedkoopste en vinnigste metode en dit werk altyd.

“Oefening stel seretonien in jou liggaam vry. Dit verhoog jou dopamien-vlakke en jy slaap meer as jy gereeld oefen. ’n Mens voel dan outomaties beter sonder dat jy enige pilletjie gedrink het en sonder dat jy enigiemand gaan sien het.

“Oefening voorkom en beveg osteoporose, want elke keer wat ’n mens ’n spier oefen, rek die spier.

“Die spiere is vas aan jou bene en elke keer as ’n spier teen ’n been trek, stimuleer dit beengroei en beeninstandhouding. Baie min mense weet dat oefening ook kanker beveg, spesifiek bors- en kolonkanker.”

Schoeman verduidelik dat borskanker oor estrogeen gaan. Voue het baie estrogeen en die risiko vir borskanker verminder elke keer as ’n mens aktief is.

Kolonkanker gaan oor ’n gesonde maag.

As ’n mens se verteringstelsel gesond is, en oefening help daarmee, vertraag dit ook die moontlikheid van en risiko vir kanker.

Schoeman deel een van haar leuses in die lewe, ’n Tibetaanse gesegde wat lui, ‘The secret to living well and longer is this: eat half, walk double, laugh triple and love without measure.’

Lynette Posthumus, skakelbeampte van die Bethal VLU-tak, het tydens die vergadering ’n blyk van waardering aan die voorsitter van die afgelope drie jaar, Annette Greyvenstein oorhandig.

Die Bethal VLU-tak se volgende vergadering is op 16 April en belangstellendes is welkom om dit by te woon.

Vir meer inligting, skakel Posthumus by 072 203 6230.

Related Articles

 
Back to top button