Local newsNews

Morgenzon krepeer terwyl broeiery floreer

“Wanneer daar nie meer water by hierdie punt is nie, beteken dit dat die hele dorp sonder water sit.”

Terwyl die dorpenaars al vir maande lank met hul hande in die hare sit oor krane wat slegs drup-drup, floreer sake by die Ubuhle Siyazenzela Hoenderbroeiery, wat onder die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling val, waar daar na bewering 180 000l gratis water daagliks afgelewer word.

Die onkostes wat deur die hoenderbroeiery in hierdie transaksie aangegaan word, kom volgens werkers van dié onderneming slegs van die vervoer daarvan deur Fusi Transport.

Die dorp het ’n inwonertal van sowat 2 000 mense en is berug vir sy waterprobleme en paaie wat daagliks deur duisende vragmotors flenters getrap word.

’n Ontstoke inwoner, Corné Nel, het Hoëvelder (Standerton Advertiser se susterskoerant) meegedeel daar is slegs een waterpunt op die dorp, op die R39 agter Savuti Transport, waar hy werk.


Fusi Transport maak sy rondes, waar hy 5 000l per rit aan die Ubuhle Siyazenzela Broeiery aflewer. Foto: Wayne van der Walt

“Wanneer daar nie meer water by hierdie punt is nie, beteken dit dat die hele dorp sonder water sit.”

Dié waterpunt is op die hoek van die straat en is oop vir enigiemand om water daaruit te tap, hoewel dit onduidelik is of dit wettiglik gedoen kan word.

“Sommige van ons begin wonder of die munisipaliteit doelbewus versuim om die waterinfrastruktuur te onderhou of te herstel, sodat hulle tenders vir watervervoer kan uitreik,” het Nel gesê.

Hoëvelder het ondersoek gaan instel ná inwoners vrae begin vra het oor die watergebruik van die broeiery. Piet Makhanye, ’n instandhoudingswerker, en Ntombifikile Mbatha, ’n algemene skoonmaker op die perseel, was gewillig om openlik te gesels.


Die Ubuhle Siyazenzela Broeiery bestaan uit ses broeihuise wat daagliks van water afhanklik is. Foto: Wayne van der Walt

Makhanye het gesê hulle het sedert 2022 nie meer water by die hoenderbroeiery nie. Sedertdien het hulle glo toestemming van die Lekwa Plaaslike Owerheid ontvang om gratis water by die waterpunt op die dorp te gaan afhaal.

Hoëvelder het gevra of daar enige dokumentasie is om hierdie ooreenkoms te bekragtig, waarop Makhanye gesê het dat Njabulo Nzothso, die bestuurder van die broeierplaas, wel in besit van so ’n ooreenkoms is.

Hy was nie op die perseel ten tyde van die onderhoud nie. Daar is volgens Makhanye 10 mense wat op die plaas werk.

Oor die hoeveelheid water wat nodig is om ses broeihuise te onderhou en produksie aan die gang te hou, het Makhanye gesê dat hulle ten minste 180 000lL water vir ’n halwe dag benodig.

“Sedert 2022 het die kuikensterftes van 3% tot sowat 7% gestyg. Sonder water kan ons nie die bedryf aan die gang hou nie.”

Mbatha het gesê sy behartig die betalings aan Fusi Transport, wat die broeiery R3 700 ’n dag uit die sak uit jaag.

“Soms betaal ons meer,” het sy vrywillig inligting aangebied.

Op die vraag of daar ’n tender uitgereik is vir die vervoermaatskappy, was albei Mbatha en Makhanye dit eens dat geen tenderproses plaasgevind het nie, en dat die eienaar van die maatskappy, Busi Tholakele, plaaslik woon en sy eie trok en ’n 5 000l tenk het, daarom doen hy die aflewerings.

Volgens Makhanye word water daagliks afgelewer, wat beteken dat die betaling aan Tholakele tot R115 000 per maand kan wees. Die water wat ontvang word, word aangewend tot die produksie van die broeiery, maar word ook gebruik om toilette op die perseel te spoel, en vir skoonmaak- en algemene instandhoudingspraktyke.


Watervermorsing op Morgenzon.

Hoëvelder het die Lekwa Plaaslike Owerheid se woordvoerder, Lubabalo Majenge, genader met navrae rakende die ooreenkoms wat met die gemeenskap aangegaan is oor die gebruik van hierdie water, hoeveel water vanuit die waterpunt gebruik mag word, watter toesig daar by die waterpunt is en of daar enige ooreenkomste is rakende die hoeveelheid water wat deur die hoenderplaas afgehaal kan word.

Majenge het gesê die munisipaliteit het nie toestemming aan die hoenderbroeiery of enige individue in die gemeenskap gegee het om water gratis vanuit hierdie waterpunt te trek nie.

Hy het aangedui die munisipaliteit sal die saak met die hoenderbroeiery sal opneem. Hoëvelder het daarop gevra wat dit behels, omdat dit al vir meer as twee jaar die geval is, wat beteken dat miljoene liters water reeds onwettig afgehaal en vir produksiedoeleindes aangewend is.

Majenge is gevra dat sou hierdie gebruik van water onwettig wees, die gepaste aksie nie sou wees om ’n diefstalsaak by die plaaslike polisiestasie te open nie. Hoëvelder wag vir terugvoering hierop.



Majenge het beweer dat daar ’n waterpyp is wat water aan die broeiery voorsien en dat die munisipaliteit die maatskappy faktureer vir die gebruik van die water.

“Verbruikers, insluitend die genoemde maatskappy, word gefaktureer vir die hoeveelheid water wat gebruik word en nie voorgeskryf wat hulle die water voor moet gebruik nie.”

Hy kon nie bevestig of die faktuur wat uitgereik word, ooreenstem met die 180 000l water wat daagliks aangewend word om die produksie by die broeiery aan die gang te hou nie, en het ook nie gereageer op die werkers se bewering dat hulle sedert 2022 nie ’n druppel water op die perseel gehad het nie.

Die plaaslike owerheid ontken ook dat hy kennis dra van Fusi Transport en van enige betalings wat aan hulle gemaak word vir die vervoer van water vanaf die waterpunt op die dorp tot by die broeiery.

“Lekwa Plaaslike Owerheid het nie Fusi Transport aangestel om water aan die gemeenskap te lewer nie. Ons ken en het niks met hierdie maatskappy te doen nie.”

Ten spyte van pogings om telefonies met Nzothso in gesprek te tree, het hy geweier om dié vrae te beantwoord en net gesê dit is teen sy beginsels om sulke vrae oor die telefoon te beantwoord.

Hoëvelder het daarom ingestem om die vrae per e-pos aan hom te rig. Hy het steeds nie geantwoord nie.

Hoëvelder het ook vrae aan Tholakele en die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling woordvoerder, Reggie Ngcobo, gestuur.

Nie Tholakele of Ngcobo het teen druktyd kommentaar gelewer nie.

Hoëvelder is ’n susterskoerant op Ermelo.


At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button