Dr Betsie Louw van Standerton brand nog steeds die vlam hoog
Hoogtepunte in haar lewe op persoonlike vlak was die geboorte van haar kinders en op professionele vlak, ’n stalletjie by die skou met hul 100ste herdenking, en die toekenning wat sy by SADA ontvang het.
Dr Betsie Louw het einde Maart vanjaar die tuig by Standerton Hospitaal neergelê, maar is reeds volstoom aan die gang om lesings by verskeie skole te gee om haar grondige kennis van tandheelkunde en mondhigiëne oor te dra.
Betsie is op 1 Januarie 1990 in voltydse hoedanigheid by die hospitaal aangestel en na ’n paar jare van sessiewerk alleenlik is sy vanaf Januarie 2005 in ’n 5/8ste pos aangestel.
Sy het destyds ’n oorplasing van Embhuleni Hospitaal, naby Badplaas, na Standerton aanvaar en haar eggenoot, dr Eric Louw, het by die praktyk van dr Ulrich van Heerden aangesluit.
Betsie het in Junie 1985 as tandarts by die Universiteit van Pretoria gekwalifiseer en was vir geruime tyd in die koshuis, Jasmyn, waar sy die laaste twee jaar ’n annekshoof was. Nie dat die besluit om tandheelkunde te studeer altyd in haar gedagtes was nie.
“My ma het in die September skoolvakansie in matriek vir my gesê ek moet nou besluit wat ek gaan doen,” het Betsie vertel.
Haar aanlegtoetse by die RGN het aangedui dat sy met gemak ’n geoktrooieerde rekenmeesterkusrus sou slaag met haar wiskundepunte wat onderskeidingsmateriaal was.
Tandheelkunde was agtste op die lys.
“Ek was nog nooit in my lewe spyt oor my keuse nie.”
Sy het na haar studies ’n privaat praktyk gekoop op Vryburg in die Noord-Kaap, waar sy vir twee jaar gepraktiseer het.
Daarna het sy ’n pos aanvaar by Embhuleni hospitaal naby Badplaas, waar sy vir twee en ’n half jaar gewerk het in diens van die Departement van Gesondheid.

Betsie was aktief betrokke by klinieke op die dorp en Sakhile en het ook Balfour en Morgenzon besoek. Haar werksywer is raakgesien en sy het twee toekennings van Standerton Hospitaal ontvang vir haar bydrae tot bevordering van mondgesondheid in die gemeenskap.
Die South African Dental Association (SADA) het haar op 16 Februarie 2022 ook met ’n Humanitarian Award vereer.
Sy het deur die jare verskeie uitstallings by skole en die biblioteek op Standerton gereël. Wêreld Mondgesondheidsdag en Nasionale Mondgesondheidsdag is vir haar belangrik en sy het geleenthede georganiseer wat met die hulp van die span altyd ’n groot sukses was.
Op die vraag oor watter persoonlikheidseienskappe ’n goeie tandarts moet beskik, het sy empatie en respek vir die pasiënt, sonder huiwering, uitgesonder.
“Baie pasiënte gebruik die tandartsafspraak om bietjie af te pak, en dan voel mens soms ook ’n bietjie soos ’n sielkundige”.
Sy is van mening dat mense oor die afgelope jare verarm het gegewe die toeloop na provinsiale hospitale vir bystand.
Die Louw-egpaar is in Desember 1986 op Evander in die huwelik bevestig en het twee kinders, Eric en Petra.
Eric, ’n sagteware ingenieur, is met Eunice getroud en Petra, ’n diëetkundige, met Zander.
Betsie se talente sluit ook die estetiese in en sy neem graag die verfkwas op om aan haar kreatiwiteit uiting te gee.
Haar man is ook geen groentjie as dit by kreatiwiteit kom nie. Hoewel sy nog nie ’n uitstalling agter die rug het nie, hang haar werke in haar huis, familie en vriende se wonings.
“Daar is geen spesifieke periode in die kunsgeskiedenis wat juis tot my spreek nie. Ek gebruik akriel om iets vas te vang wat uniek is.”

Sy gebruik verskeie tegnieke om te skilder en geniet dit om haar eie oorspronklike idees te gebruik, ook deesdae meer abstrak.
Hoogtepunte in haar lewe op persoonlike vlak was die geboorte van haar kinders en op professionele vlak, ’n stalletjie by die skou met hul 100ste herdenking, en die toekenning wat sy by SADA ontvang het.
Betsie stap graag en oefening is vir haar belangrik.
Sy het nie nagelaat om haar borge oor al die jare vir hul bydraes te bedank nie, asook die span wat haar altyd ondersteun het.
“Ek wil net gelukkig wees, lekker werk en hê my kinders moet gelukkig wees,” het sy mee afgesluit.



