Standerton se Dina Höhls pak haar tas vir Duitsland
Tydens Ulrich en Ruben se kuier op Standerton is musiek gemaak, hetsy kitaar, mondfluitjie, klavier of bloot net samesang.
Dina Höhls van Standerton staan op die punt om vir die tweede keer in ’n jaar na Duitsland vertrek.
Benewens dat sy haar seun, Ruben, kan sien wat al vir ’n geruime tyd in Hanover woonagtig is, gaan dit nie net oor die hondjie nie, maar ook die halsbandjie.
Dina het tydens haar vorige besoek ’n Duitser ontmoet wat sommer al in Februarie kom kuier het.
Ulrich Herzau, ’n vrygesel, en Dina het aanklank by ’n gemeente in Hanover gevind, tydens haar laaste kuier in Duitsland.
“Na al die katedrale, het ek vir Ruben gesê ons moet na ’n doodgewone kerk soek,” het Dina vertel.
“Die res is geskiedenis en ’n feëverhaal oomblik.”
Dina het baie gestap en die eeuoue standbeelde en waterfonteine ingedrink, maar daar is ’n kinkel in die kabel tussen die voetganger- en fietsrypaadjies.
“’n Mens word beboet as jy op die verkeerde paadjie is. Arnold, my oorlede man, het altyd gesê wat nie verbode is nie, is verpligtend,” het sy gesê.
Die straatmusikante, ‘buskers’ met hulle tjello’s, kitare en trekklaviere, veral by stasies, bly haar by. Ruben het Desember 2022 na Duitsland vertrek, waar familiebande stewig geanker is met Arnold se sibbe.
Dina het haar seun destyds vir ’n geruime tyd by Laerskool Wittenberg naby Piet Retief ingeskryf. Haar broer, Hannes Rautenbach, ’n boer in die omgewing, het ’n bees aan Ruben geskenk, waarna Ruben daad by die woord gevoeg en dit in ’n vliegkaartjie belê het.
Hy werk tans by ’n wêreldwye afleweringsmaatskappy vir restaurante wat per fiets laat aflewer. Dié oefening kom hom handig te pas want hy draf uit as slot vir die eerste rugbyspan in die omgewing.

Ma en seun het albei romantiese verbintenisse, met Dina en Ulrich en Ruben en Janie, ’n student van Mosselbaai, wat haar visier op Holland stel.
Tydens Ulrich en Ruben se kuier op Standerton is musiek gemaak, hetsy kitaar, mondfluitjie, klavier of bloot net samesang.
Haar huis op die dorp wemel van teddiebere, almal getel, wat gewoonlik by die krisisentrum van die SAVF in Schwickardstraat gebruik is.
“Ulrich het ook vir my ’n teddiebeer gebring,” aldus Dina.
Almal het die uitstappies plaas toe na die Rautenbachs, kerk toe en ’n draai by Port Shepstone, asook die wildsplaas Thula-Thula, geniet.
“Ulrich het alles verfrissend anders beleef.”
Hulle kommunikeer slegs in Duits, hoewel musiek ook ’n kommunikasiemiddel vir die twee geesgenote is.
Dina het nie op haar louere gerus nie en met die oog op die kuier op plekmatjies met Afrika-motiewe, besluit.
Die materiaal is plaaslik aangekoop en’n vriendin het ingespring en die matjies gemaak, wat Dina aan die huisgenote van Ulrich sal oorhandig.
Sy het ook ’n collage, haar spesialisgebied, van momente in haar lewe gemaak. Haar familie in Holland sal ook opgesoek word, siende die grens naby is.
Sus Trinni van Johannesburg sal haar Oliver Tambo Lughawe toe neem, waar die Turkish Airways vlug op 27 April sal wag.
“Ek tel die dae af,” het sy mee afgesluit.



