Local newsLocal sportNews

Meestersatleet van Bethal palm medaljes in

John Aspeling (63) gaan in Mei aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe in Potchefstroom deel neem.

John Aspeling (63), inwoner van Palmoord Leefstyl Sentrum vir bejaardes Ouetehuis, het verlede jaar in November aan die Afrika Spele vir atletiek deelgeneem en ’n silwer medalje in spiesgooi verower.

Hy het op 6 April aan die Gauteng Noord Meesters Atletiekkampioenskappe deelgeneem en weer eens ’n silwer medalje in spiesgooi losgegooi en ’n goue medalje in die Griekse diskus verower.

Aspeling het in die meestersafdeling deelgeneem en is nou gekies om as deel van die Gauteng Noord Meesters-span in Mei vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe in Potchefstroom deel te neem.

Aspeling het op George in die Kaap groot geword en op skool al uitgeblink in atletiek en rugby. Hy het verskeie medaljes ingepalm en verskeie kere aan die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe deelgeneem in 1 500m, 3 000m, spiesgooi en paalspring.

Nadat hy gematrikuleer het aan ’n landbouskool in Clanwilliam is hy weermag toe vir twee jaar en toe het hy aan die Technikon van Pretoria landbou studeer.

Hy is later weer terug weermag toe en het in dié tyd uitgeblik op die rugbyveld as deel van die weermag se rugbyspan. Hy was ook lid van ’n boksklub en het gesê hy was nog altyd lief vir sport.


John Aspeling op 6 April tydens ’n atletiekbyeenkoms op Potchefstroom.

Aspeling het later die weermag vir die myne verruil en het al op baie plekke in Suid-Afrika en Wes-Afrika gewerk.
Sy atletiekloopbaan het in 2017, toe hy reeds 56 jaar oud was, weer vlam gevat.

Hy het sy dogter na Mosselbaai vergesel waar sy aan ’n atletiekkampioenskap sou deelneem, maar sy het op die nippertjie onttrek en die organiseerders het gesê Aspeling moet in haar plek deelneem.

“Ek het toe weer begin oefen en aan byeenkomste begin deelneem, maar toe die Covid-19-pandemie kom, het dit die byeenkomste belemmer,” het Aspeling vertel.

Hy het egter steeds bly oefen en toe dinge weer teruggekeer het na normaal, het Aspeling weer sy staal gewys op die atletiekveld. Hy het ’n reëling met Hoërskool Hoogenhout waar hy gaan oefen.

Aspeling se volgende doelwit is om ’n goue medalje te verower by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe en om dan te presteer by die Wêreld Atletiekkampioenskappe wat in Augustus in Swede plaasvind.

Hy wil ook weer begin om aan 10-kamp byeenkomste deel te neem.

Related Articles

 
Back to top button