Secunda-inwoner is trots op sy bulterriërs
Stanley meen die probleem met aggresiewe hondsoorte kom in wanneer mense die bulterriër honde-ras met ander rasse gekruis word.
Stanley en Alta Viljoen se bullterriërs presteer by skoue en het al verskeie pryse ingeryg. Die egpaar het in 1987 hul eerste bullterriër gekry, ’n opregte en geregistreerde hond, wat hulle as troeteldier aangehou het.
Hulle het egter besluit om na sy dood nie weer honde te kry nie en Stanley het toe begin vlieg met duiwe en hom daarop toegespits.
Hy het egter in 2017 ’n opregte bulterriër persent gekry en eers gedink hy gaan vir Pheebi net aanhou as ’n troeteldier, maar nadat hy haar by ’n teler se reun gehad het en sy kleintjies gekry het, het hulle besluit om haar te skou.
Die Viljoens het ook een van die babas gehou. Een van Pheebi se kleintjies, Mary, is as die kampioen in die babahondjie-afdeling aangewys by die Noord-Transvaal Tswane skou in 2021 en het verskeie pryse ingepalm.
Stanley het later nog ’n reun, Mattley, gekry en met hom ook begin skou. Hy het ook skoonskip gemaak by die skoue en gereeld as kampioen-hond weggestap.

Stanley meen mense het ’n wanopvatting oor bulterriërs en dink hulle is aggressiewe honde wat almal wil byt.
“Hulle is eintlik baie saggeaarde honde,” het Stanley gesê.
Hy wil bewusmaking doen oor watter soort hond ’n bulterriër eintlik is en hoe hulle geaardheid is en gaan stap gereeld met Mary en Mattley by die eendedammetjie.
“Ek moedig mense dan aan om vir hulle te kom hallo sê en hulle te vryf.
“By die skoue staan hulle ewe soet stil as die beoordelaars aan hulle moet vat en voel om te bepaal of die hond in ’n goeie toestand is en goeie vorm het.
“Hulle moet inteendeel rustig wees by die skoue, as hulle nie is nie, word hulle gediskwalifiseer.
“Ons teel hulle spesifiek met ’n saggeaarde en rustige temperament.”
Stanley meen die probleem met aggresiewe hondsoorte kom in wanneer mense die bulterriër honde-ras met ander rasse gekruis word.
“Jare terug, is die bulterriër geteel om ’n veghond te wees, maar toe het daardie telers agtergekom dié honde-ras het eintlik ’n baie sagte en rustige temperament en is nie geskik om ’n veghond te wees nie,” het Stanley gesê.
Hy wil graag ’n sosiale byeenkoms reël vir mense met hul bulterriërs sodat hulle van mekaar oor dié honde-ras kan leer.
Stanley skou tans met Mattley by spesifieke skoue sodat hy internasionale status kan kry.
LEES OOK: Inspeksie van verskeie winkels in Standerton lei tot sluiting
Om dié status te bereik, moet vier beoordelaars van verskillende lande vir die hond ’n spesifieke puntetelling gee.
Stanley wil dan aansoek doen vir Mattley om kampioen-status te kry.
“Hulle voeding is baie belangrik en hulle moet gereeld oefening kry.”
Stanley kyk selfs na watter plante hy in sy tuin het, omdat sekere plante giftig vir die honde kan wees.
Hy is trots op sy honde en hoop mense sal met ander oë na bulterriërs kan kyk en nie altyd dink hulle is wrede honde wat mense aanval nie.
LEES OOK: Raadslid bevorder lees onder bejaardes van Cullinan en Rayton



