Inspeksie van verskeie winkels in Standerton lei tot sluiting
“Onwettige ondernemings soos hierdie ondermyn ons plaaslike ekonomie en veroorsaak dat wettige plaaslike ondernemings swaarkry” het Leon Enslin, takvoorsitter, gesê.

Standerton-buurtwag het nóg onwettige ondernemings gesluit.
Volgens ’n onlangse persverklaring, het AfriForum-buurtwag op 19 April in samewerking met die SAPD en die Departement van Binnelandse Sake onwettige ondernemings op dié dorp en omliggende areas gesluit.
Tydens dié operasie is verskeie winkels in Sakhile, op Standerton, en in Thuthukani geïnspekteer en dokumente nagegaan.
Agt ondernemings is uiteindelik gesluit weens nie-nakoming van regulasies.
“Onwettige ondernemings soos hierdie ondermyn ons plaaslike ekonomie en veroorsaak dat wettige plaaslike ondernemings swaarkry” het Leon Enslin, takvoorsitter, gesê.
“Dit skep ook baie keer ’n geleentheid vir gesteelde goedere om op só ’n wyse verhandel te word en daarom moet ons teen onwettige ondernemings optree.”
Die Standerton-tak het ook intussen die Voetspore Monument skoongemaak. Dié monument is meer as vyf jaar gelede deur die tak aangeneem en word deurlopend onderhou.
Die gras rondom die monument word onder meer gesny en die vullis om die monument word ook opgetel.
“Projekte soos hierdie is belangrik om ons erfenis te beskerm en ons sal voortgaan om projekte soos hierdie aan te pak,” het Enslin mee afgesluit.