Local newsLocal sportNews

Ermelo wen epiese stryd teen Sables

Ermelo het met 45-24 gewen.

In ’n opwindende wedstryd het Ermelo Rugbyklub die Standerton Sables verlede naweek op Ermelo aangedurf.
Ermelo het met 45-24 gewen.

Die wedstryd het afgeskop met Ermelo wat onmiddellik die botoon gevoer het. Hulle het in die openingsminute van die wedstryd ’n vroeë drie gedruk, wat deur Diean Swart verdoel is.

Die span se samewerking was duidelik. Hulle het soos ’n goed geoliede masjien gefunksioneer en was vasbeslote om nie in hul eie helfte te speel nie.

Daarbenewens was hulle rotsvas op die verdediging en het groot duikslae onder die luide toejuiging van die tuisskare uitgevoer.

Na ’n kort spel in Ermelo se helfte het Standerton die bal die werk laat doen en ’n briljante drie in die hoekie gaan druk, hoewel hulle dit nie kon verdoel nie.


Hendrik Coetzee hardloop met die bal.

Ermelo het vinnig met ’n goed gekoördineerde aanval hierop geantwoord.

Nicolaas Lauwrens het ’n breekslag gemaak en is net kort van die doellyn gestuit, maar Peet Marx het die bal opgepik en oorgeduik.

Swart het hierdie keer gemis, hoewel hy later in dié helfte twee strafskoppe oor die pale sou jaag.

Die wedstryd het begin wipplank ry, en kort voor rustyd het Standerton twee vinnige drieë gaan druk. Hulle het ook een hiervan verdoel.

Die rustydtelling in die spanningsvolle eerste helfte was 18-17 in Ermelo se guns, maar met Standerton wat die momentum na die tweede helfte oorgedra het.


Willie Prinsloo van Standerton gee die bal uit.

Direk na die afskop het Ermelo aangeslaan, en Standerton het veldposisie gehad.

Kort na die skrum is ’n strafskop aan Standerton toegeken, omdat ’n Ermelo-speler nie gou genoeg kon wegrol nie.

Gelukkig vir Ermelo was die Sables onsuksesvol met die skop. Ermelo moes diep grawe en het gou weer hul ritme gevind. Na die strafskop was Ermelo weer op die aanval.

’n Belowende poging na die hoek deur Eddie Dludlu is gestuit toe hy oor die doellyn platgetrek is, maar ’n voet buite die speelveld gehad het. Ermelo kon egter die lynstaan steel en hul aanval voortsit.

Hul volharding is beloon toe Buhle Mangane kort voor die doellyn vasgetrek is, maar kon oorstrek om te druk. Swart, wat sy skopskoen aangehad het, kon die verdoelskop oor die pale jaag.


’n Standerton Sable speler probeer ‘n aanval keer.

Standerton se dissipline het hulle in die steek begin laat, en na ’n aanslaan deur Ermelo het ’n Standerton speler ’n duikslag na die fluitjie op een van Ermelo se spelers uitgevoer en sodanig ’n strafskop afgestaan.

Ermelo het hoek toe geskop. Billy van der Walt se lynstaangooi was skeef en ’n skrum het plaasgevind. In die eerste helfte was Standerton gedurende skrumtyd in beheer, maar Ermelo het in die tweede helfte hulle tokse dieper in die gras geplant en Standerton begin opdraande gee.

Die bal is tydens die skrum omgekeer en wyd na Luigi Cirigliano gestuur, wat oor die kalklyn geseil het.

Met 11 minute oor het Standerton ’n laaste poging aangewend, ’n drie gedruk en die verdoelskop oorgejaag, wat die telling tot 37-24 gebring het.

Ermelo se vasberadenheid was egter opsigtelik. Standerton is vir ’n hoogvat geblaas en die skeidsregter het ’n strafskop aan Ermelo toegeken.

Met slegs minute oor op die klok is ’n tikskoppie gevat. Die bal het tot by Cirigliano gery, wat ’n breekslag gemaak het en ’n laaste drie gaan druk het.

Die Sables se volgende wedstryd sal op 8 Junie teen Kriel weg wees. Daarna vat hulle vir Sasol 3 aan op tuisbodem op 22 Junie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button